Die Amerikaanse selfoonnetwerk AT&T het ’n opname geborg van gereelde bestuurders wat daagliks teksboodskappe stuur ongeag waar hulle is. Altesaam 98 persent van die deelnemers in Amerika het gesê hulle is bewus van die gevare van teksboodskappe stuur terwyl hulle bestuur.

Nogtans het driekwart van hulle erken hulle stuur teksboodskappe terwyl hulle bestuur in weerwil van openbare veldtogte en wetgewing daarteen in sommige Amerikaanse deelstate.

Twee derdes het gesê hulle het al teksboodskappe gelees terwyl hulle by ’n rooi lig of stopteken stilgehou het, terwyl meer as ’n kwart gesê het hulle het al teksboodskappe gestuur terwyl hulle bestuur.

Meer as ’n kwart van diegene wat teksboodskappe gestuur het terwyl hulle bestuur, het gemeen hulle “kan maklik talle goed gelyktydig doen, selfs terwyl hulle bestuur”.

AT&T het die uitslag van die opname Woensdag bekendgestel as deel van ’n veldtog teen teksboodskappe stuur terwyl mense bestuur.

Die onderneming het die opname ontwerp saam met David Greenfield, die stigter van ’n sentrum vir internet- en tegnologieverslawing en ’n professor aan die Universiteit van Connecticut se mediese skool.

Die opname is gemaak terwyl AT&T die beskikbaarheid uitbrei van ’n gratis app wat teksboodskap-kennisgewings stilmaak en outomaties aktiveer wanneer ’n mens vinniger as 24 km per uur beweeg; passasiers kan dit afskakel.

Die app DriveMode sal voortaan beskikbaar wees vir AT&T-klante wat ’n iPhone gebruik nadat net gebruikers van Android- en BlackBerry dit voorheen kon kry. Die iPhone-weergawe sal ook beskikbaar wees vir klante van ander diensverskaffers, maar party funksies sal net op AT&T-toestelle werk.

Die opname is in Mei gedoen onder Amerikaanse selfooneienaars van 16 tot 65 wat amper elke dag bestuur en minstens een keer per dag ’n teksboodskap stuur.

Die navorsers het die opname oor mense se selfoon gedoen. Diegene wat ’n landlynfoon sou opgetel het, sou dalk ’n ander ingesteldheid gehad het.

Dis ook moontlik dat diegene wat nie so dikwels teksboodskappe stuur nie, ’n ander ingesteldheid sou kon hê.

Die navorsers het 343 mense uitgesluit, want hulle het nie genoeg bestuur of teksboodskappe gestuur om aan die vereistes te voldoen nie. Ná hierdie en ander uitsluitings het 1 004 Amerikaanse volwassenes die telefoonopname voltooi.

David sê die opname is die jongste wat ’n teenstrydigheid toon tussen mense se houding en gedrag.

Dit het ’n uiteenlopende redes getoon waarom bestuurders teksboodskappe stuur. Drie-en-veertig persent van die bestuurders wat teksboodskappe gestuur het, het gesê hulle wil met vriende, familie en die werk “in verbinding bly”. Amper ’n derde het dit uit gewoonte gedoen.

Van die ander redes waarom mense teksboodskappe stuur terwyl hulle bestuur:

  • Agt-en-twintig persent het gesê hulle is bekommerd hulle loop iets belangriks mis as hulle nie dadelik na hul foon kyk nie.
  • Meer as ’n kwart meen dit benadeel nie hul bestuursvermoë wanneer hulle teksboodskappe stuur nie en net soveel het gesê hulle dink ander mense verwag hulle moet “dadelik” op teksboodskappe reageer.
  • Net ses persent het geantwoord hulle is “verslaaf aan teksboodskappe stuur”, al het 14 persent erken hulle raak benoud wanneer hulle nie dadelik op ’n teksboodskap reageer nie en ervaar 17 persent “’n gevoel van tevredenheid” wanneer hulle ’n teksboodskap kan lees of daarop reageer.

Reggie Shaw was 19 toe hy in 2006 ’n motorongeluk veroorsaak terwyl hy ’n teksboodskap gestuur het. Dit het tot twee mense se dood gelei. Vandag spreek hy hom uit teen teksboodskappe stuur terwyl jy bestuur.

“Dis iets waarmee ek elke dag worstel,” sê hy. “Ek weet ek moet met ander mense daaroor gaan praat. Ek wil nie hê ander mense moet dieselfde fout maak nie.”

Reggie onthou nie wat hy net voor die ongeluk getik het nie. Hy sê hy was destyds “gedurig op my foon terwyl ek bestuur het. Dit was vir my net bestuur. Ek skat jy kan dit onkunde noem, maar ek het nooit begryp dis gevaarlik nie. Hoe kon die feit dat ek op die foon was ’n motorongeluk veroorsaak?”

Vandag is sy foon af wanneer hy bestuur. Hy sê hy het in die agt jaar sedert die ongeluk nooit ’n foonoproep of teksboodskap gekry wat so belangrik was dat dit nie kon wag tot hy stilgehou het nie.

David, wat die uitwerking van digitale tegnologie op die brein bestudeer, noem slimfone graag “die kleinste dobbeloutomate ter wêreld”, want dit beïnvloed die brein op soortgelyke maniere as wat dobbel of drank kan.

Dopamienvlakke verhoog terwyl jy boodskappe verwag en dit lei tot hoër vlakke van genot. Om gewenste boodskappe te ontvang kan jou dopamienvlakke selfs meer laat toeneem.

Terwyl alle afleidings gevaarlik kan wees, val baie van die klem op teksboodskappe stuur terwyl jy bestuur, sê David, want “dis voortgaande en dit het ’n element van verwagting”.

David sê mense moenie hul selfoon gebruik terwyl hulle bestuur nie, maar erken dit is dalk nie realisties nie. Hy sê apps, openbare opvoeding en wette wat jou verbied om teksboodskappe te stuur, sal mense se gedrag help verander, net soos wette en openbare opvoedingsprogramme dronkbestuur die afgelope paar dekades laat afneem het.

- Sapa/ Barbara Ortutay