’n Man wat ’n bestuurder na bewering in Fourways, Johannesburg, in ’n padwoede-voorval aangerand het, is Dinsdag in hegtenis geneem, het Gauteng se polisie gesê.

“Sy regsverteenwoordiger het hom na die polisiekantoor gebring en hy is in hegtenis geneem,” het ao. Balan Muthan gesê.

Die man is op borgtog vrygelaat en gaan Woensdag op ’n aanklag van aanranding in die Randburg-landdroshof verskryn.

’n Ooggetuie het die voorval, wat Saterdagmiddag omstreeks drieuur plaasgevind het, opgeneem en op YouTube geplaas.

Die video wys hoe ’n passasier uit ’n Porsche klim en die bestuurdersdeur van ’n Volkswagen Polo skop.

Toe die Polo se bestuurder sy venster afrol, begin die ander man hom slaan. ’n Stryd breek oënskynlik los en die man gooi iets wat soos die Polo se sleutels lyk oor die pad.

In ’n onderhoud met die uitsaaier eNCA het die bestuurder van die Polo – wat uit die vrees vir viktimisering gevra het om anoniem te bly – gesê die Porsche se bestuurder het hom in die gesig geslaan. Hy het gesê hy het aanrandingsaak aanhangig gemaak.

“Ek het agter hom bestuur en hy het links en regs voor mense ingery. Toe beweeg ek nader om te sien watter soort Porsche dit is toe die passasier ’n blikkie by die venster na my uitgooi,” het die man gesê.

“Hy het toe ’n ander blikkie gegooi, wat my motor getref het. Toe het ek my toeter gedruk, hom die middelvinger gewys en gevra wat hy dink hy doen.”

Die aanvaller het na bewering die motorsleutels gegryp en in bosse langs die pad gegooi.

“Hy het my opsporingstelsel en kantspieël beskadig. Dit het alles so vinnig gebeur, ek het nie eers kans gehad om te dink nie,” het die man gesê.