[post-slider]

Die jongste XUV500 beskik oor ’n rits aanpassings en verbeteringe wat nuwe glans aan dié sportnutsvoertuig verleen. Onder die opgraderings tel ’n grootskaalse opkikker van die Mahindra se voorkoms, met spesifieke klem op die vooraansig. Daarbenewens is die binneruim ook opgesmuk. Die belangrikste veranderinge word aan die voorkant van die XUV500 aangetref, waar die sierrooster, hoofligte, enjinkap en misligte almal heeltemal herontwerp is. Dit gee ’n deftiger voorkoms aan die XUV500. Agterlangs is die veranderings meer subtiel.

'Die mees opsigtelike veranderinge is die deftige gitswart binne-afwerking.'

Die ruim kajuit van die XUV500 het verskeie belangrike verbeterings ondergaan. Die mees opsigtelike veranderinge is die deftige gitswart binne-afwerking en die volkleur-tasskerm van sewe duim, wat in die middel van die instrumentepaneel gehuisves word.

Die nuwe skerm, wat as standaartoerusting op die W8-topmodel gebied word, is helder en duidelik leesbaar, en bied maklike en gebruiksvriendelike toegang tot die inligting- en vermaakstelsel se lang lys funksies.

Daaronder tel geïntegreerde satellietnavigasie met stemaanwysings, asook ’n klankstelsel met meervoudige luidsprekers, Bluetooth-koppeling vir veilige selfoongesprekke en musiekoordrag, ’n iPod-versoenbare USB-koppeling, en ’n trurykamera.

Die XUV500 is ook volledig toegerus. As die vlagskipmodel van die reeks bied die W8-weergawe gevorderde kenmerke soos kopligte en ruitveërs wat outomaties aktiveer, lugversorging met outomatiese klimaatbeheer, afstandbeheerde sentrale sluiting, togsnelheidsbeheer, en ’n meerfunksie-stuurwiel.

Die sitplekke spog met leerbekleedsel, terwyl die lys standaardtoerusting ook elektriese beheer vir die buitespieëls en kantruite, en laaipunte vir al drie sitplekrye insluit.

Daar is ook ‘n volledige lys aktiewe en passiewe veiligheidstelsels toegerus wat behoorlike gemoedsrus bied.

Die nuweling behou sy voorganger se doeltreffende turbodiesel-dryfstelsel. Die 2,2 L-enjinr maak van ’n turboaanjaer met veranderlike geometrie gebruik om ’n maksimum-kraglewering van 103 kW by 3 750 r/min te behaal.

Die indrukwekkende wringkragpiek van 330 Nm word reeds by 1 600 r/min bereik, en tot by 2 800 r/min volgehou, wat nie net vir wakker reaksies sorg nie, maar ook uitsonderlike trekkrag en rekbaarheid tot gevolg het.

Boonop kan die XUV500 ook brandstofdoeltreffendheid onder sy vele talente tel. Die brandstofverbruik vir die gekombineerde siklus beloop net 6,5 liter/100 km en met ’n brandstoftenk van 70 liter beteken dat die Mahindra afhangende van padtoestande ’n reikafstand van meer as 1 000 km kan behaal.

Die turbodieselenjin is aan ’n sesgang-handratkas gekoppel wat die krag na die agterwiele voer, hoewel ’n viertrekweergawe van die W8 ook beskikbaar is.

Alle modelle se pryse sluit ’n waarborg van vyf jaar/150 000 km, asook ’n diensplan van vyf jaar/100 000 km in.

Pryse

  • XUV500 W4: R262 995
  • XUV500 W6: R304 995
  • XUV500 W8: R339 995
  • XUV500 W8 AWD: R359 995