Skud jou vere reg! Louis Loock is een van die groot sterre wat op 19 September by SuperSkouspel by die FNB-stadion in Johannesburg optree. Ons het by dié sanger, wat ook graag skilder en kortverhale skryf, gaan hoor wat aanhangers kan verwag.

Hoekom sien jy uit na SuperSkouspel?

Ek dink dit gaan iets anders wees. Ons het nodig om ’n supergroot vertoning vir alle Suid-Afrikaners te bied. Dan sien ek ook baie uit daarna om Susan Boyle te ontmoet. Ons sing vir dieselfde mark, so ek gaan my bes doen om een van my CD’s in haar hande te kry sodat sy ook na my musiek kan luister.

Hoe voel dit om op ’n verhoog voor soveel mense te sing?

Die oomblik is altyd ’n bietjie te groot om te verwerk. Wat sangerwees so lekker maak, is dat jy die een oomblik voor 50 000 mense sing en die volgende by ’n privaat funksie voor 25. Albei is lekker, en albei, glo dit of nie, is ewe senutergend.

Kan jy een liedjie noem waarmee jy die skare gaan vermaak?

Ek en Magdalene Minnaar gaan ’n deel sing uit ’n liedjie op my album Skatkis. Dit kan nes die res van die album in Italiaans en Afrikaans gesing word. Ek ken Magdalene al lank en het groot respek vir haar. Sy is ’n ongelooflike sopraan.

Sien jy uit daarna om vir so ’n groot gehoor klassieke musiek te sing?

Ek voel baie trots daarop om die verteenwoordiger van klassieke musiek op die verhoog te wees. In elke gehoor is daar altyd mense wat van verskillende musiek hou. Ek sien uit na die dag dat ons ’n klassiekemusiekuitvoering onder die sterre kan hou.

Hoe gaan dit deesdae met die kortverhale en skilderwerk?

Op die oomblik kry ek glad nie tyd vir skryf en skilder nie. Ek is baie besig met vertonings, en my kandidaatprokureurskap hou my ook besig. Wanneer daar wel tyd oorbly, bestudeer ek regshandboeke en hofsake as deel van my studie. So ek skeep my skryf en skilderwerk vir eers af, maar gaan voortaan meer tyd maak daarvoor.

Wat is ná Skouspel op jou program?

Ek sing by ’n paar korporatiewe funksies, doen uitvoerings regoor Suid-Afrika en begin werk aan my Kersuitvoerings, wat einde November begin. Dit is altyd 'n hoogtepunt op my kalender.

Bespreek vir SuperSkouspel by online.computicket.com, bel 0861-915-8000 of besoek jou naaste Computicket.

 
DIGITAL BANNER_HG_600x450 (0-00-00-00)