DIT lyk of al wat leef en beef deesdae hul hartsake aanlyn beoefen. As dit nie is om ware liefde te vind nie, dan ten minste om potensiële maats te ontmoet met wie hulle ’n afspraak kan reël.

Een webtuiste raam dat ’n vyfde van verhoudings aanlyn begin en selfs die ikoniese Amerikaanse tuisvlytkoningin Martha Stewart het by ’n webtuiste vir internetafsprake aangesluit. Maar is sulke afsprake ’n opsie vir enkellopendes in Suid-Afrika?

Debbie du Toit*, ’n geskeide Kaapse vrou, is al sowat ’n dekade ingeteken by verskeie afspraakwebtuistes. Sy het al ophou tel op hoeveel afsprake sy oor die jare was.

Sy glo internetafsprake het die stigma afgeskud wat voorheen daaraan gekleef het: dat dit net vir wanhopige mense is. “Dis wonderlik vir vroue wat nie daarvan hou om alleen uit te gaan of ouens in kroeë te ontmoet nie,” sê Debbie. “Dit werk vir my. Eendag is ek dalk gelukkig en ontmoet die liefde van my lewe!”

In ’n studie het John Cacioppo, ’n sielkundeprofessor aan die Universiteit van Chicago, bevind getroude paartjies wat mekaar aanlyn ontmoet het, is minder geneig om te skei as paartjies wat mekaar elders leer ken het.

John het bevind van die sowat 20 000 paartjies wat aan die opname deelgeneem het (almal het tussen 2005 en ’12 getrou), het 5,96 persent van diegene wat mekaar aanlyn ontmoet het, geskei, teenoor die 7,67 per-sent van diegene wat mekaar elders ontmoet het.

John sê wat hom die meeste verbaas, is die “drastiese verskuiwing” in hoe mense hul lewensmaat ontmoet het, want 45 persent van die paartjies het aangedui hul verhouding het aanlyn begin.

Een netwerk van Suid-Afrikaanse afspraakwebtuistes, SinglesNet, het die afgelope jaar sowat 60 000 nuwe intekenaars gehad, en sowat 30 000 van hulle het die afgelope drie maande ingeteken. Huisgenoot se webtuiste Pasmaats en ons sustertydskrif YOU se Looking4You wys soortgelyke tendense. Net in Januarie het Pasmaats met 74 persent en Looking4You met 54 persent gegroei.

Internetafsprake in Suid-Afrika toon reuse- groei, sê Johann du Plessis van SinglesNet. “Baie mense sukkel om tyd te kry vir uitgaan en iemand ontmoet,” sê Johann.

“Maar met internetafsprake kan jy na honderde beskikbare enkellopendes kyk en hulle in die veiligheid en gemak van jou huis ‘ontmoet’. Met slimfone is dit maklik om toegang tot sosiale webtuistes en dienste te kry. Sulke afsprake kan nou enige tyd plaasvind waar mense ook al internettoegang het.”

The Dating Lab, ’n maatskappy wat wêreldwyd verskeie afspraakwebtuistes bestuur, waaronder Suid-Afrika se gewilde Dating Buzz, sê met die groei van sosiale media is dit net natuurlik dat ál meer mense hulle tot die internet wend om hul lewensmaat te vind.

“Die voordeel bo iemand by ’n kroeg of klub ontmoet, is dat dit jou ’n kykie in die mens se persoonlikheid gee en ’n veilige en anonieme platform bied vir mense om mekaar te leer ken voor hulle van aangesig tot aangesig kontak het.”

Maar selfs Debbie erken die mans wat jy aanlyn ontmoet, is nie altyd die soort wat jy as kêrel of selfs vriend wil hê nie, en daar is beslis diegene wat op hul profiel jok. In ’n onlangse studie in Amerika is bevind 80 persent van mense wat internetafsprake maak, skiet spek op hul profiel.

Debbie glo wanneer die tyd aanbreek om mekaar te ontmoet, moet jou afspraak in ’’n openbare plek wees, en verkieslik oor ’n koppie koffie. Sy sê aandete is uit vir die eerste afspraak weens die verwagting wat party mans dalk van ’n ete afspraak het.

“Jy kan reël dat ’n vriend jou bel so ’n halfuur nadat die afspraak begin het; teen daardie tyd het jy al ’n idee of jy wil bly of dadelik wil gaan en kan jy besluit of jy jouself wil verskoon of nie,” sê sy. “Dis ook belangrik om te onthou as jy ’n man op ’n afspraakwebtuiste ontmoet wat ’n vriend of kêrel raak, is dit nie waar dit eindig nie. Jy ontmoet hul vriende en so raak die vriendekring net groter. Daar is werklik geen verskoning om eensaam te wees nie!” * Skuilnaam. MOETS

  • LAAI ’n foto Maak seker dis ’n duidelike en onlangse foto van jou.
  • WEES positief As jy gaan praat oor slegte afsprake, kla oor hoe niemand met jou wil uitgaan nie en die wêreld vertel jy het al voorheen seergekry, gaan mense verbyhou tot by die volgende profiel.
MOENIES

  • MOENIE die waarheid aandik nie Ons wil almal ons beste voetjie voorsit, maar moenie in die versoeking kom om te jok nie. Die waarheid kom altyd op die ou end uit, en maak nie saak of dit ’n wit leuentjie is nie, dit kan jul toekomstige verhouding beïnvloed.
  • MOENIE jou persoonlike besonderhede deel nie Moenie te veel deel nie. Die meeste betroubare afspraakwebtuistes het boodskapstelsels; daarom hoef jy geen inligting aan lede te verskaf tot jy dit wil doen nie.

Kirstin Buick

Besoek ons aanlynontmoetingsportaal: www.pasmaats.co.za