Dit was die versinnebeelding van avontuurlike kannie-my-keer-ervarings, die iesegrimmige “held” in menige oorlogs- en aksiefliek en onweerstaanbaar vir adverteerders.

Lees ook: Slim, slimmer, Faraday Future

’n Man met ’n Land Rover was amper meer gesog as ’n man met ’n goeie banksaldo. Die ruwe staatmakervoorkoms sonder fiemies, daardie groot tekkies en die unieke sierrooster was onweerstaanbaar vir talle.

Tot 29 Januarie 2016. Dit was ’n goeie Vrydag vir talle, tot die nuus die wêreld ingestuur is dat Engeland die produksielyn van die Land Rover Defender op dié dag afgeskakel het.

“Die wêreld het (Land Rover) verbygesteek tot op ’n punt waar hulle nie langer aan die regte kant van emissies en veiligheidswette kon byhou nie,” het Jim Holder, redakteur van Autocar en What Car? aan Press Association gesê.

Dit is ’n groot slag vir ’n voertuig wie se oorsprong so ver terug as 1948 dateer, toe dit bloot as ’n Land Rover bekendgestaan het.

Lees ook: Wie is jy wanneer jy agter die stuur inskuif?

Intussen het Land Rover drie beperkte-uitgawe-weergawes uitgereik om die einde van die oorspronklike Land Rover te vier: Heritage, Autobiography en Adventure.

Die Heritage sal in dieselfde kleur as die heel eerste Defender, ook bekend as Huey, beskikbaar wees. Wat ons weet van die Autobiography is dat dit die luukste Defender sal wees terwyl die Adventure met eindelose opsies vir ruwe terrein toegerus sal wees. Maar die binnekant sal beslis ook luuks wees.

Kitsfeite oor Land Rover

Die inspirasie vir die Land Rover was die boksvorminge Willys Jeep van Amerika. ’n Tekort aan gepaste staal en toerusting om die nodige kurwes in die metaal te vorm was grootliks verantwoordelik daarvoor dat die Land Rover ook sy hoekige voorkoms gekry het.

Die eerste Land Rover se stuurwiel het in die middel gesit. So is die nietige kwessie van links- en regshandige voertuie omseil.

Koningin Elizabeth II ry daagliks met ’n Land Rover tydens haar vakansies in Skotland.

Meer as 2 miljoen Land Rover Defenders is in die afgelope 68 jaar vervaardig.

Bekende Land Rover-aanhangers

Rowan Atkinson (Mr. Bean)

Sean Connery

Jim Carrey

Paul McCartney

Michael J. Fox

Eric Clapton

Koningin Elizabeth II

Mel Gibson

Kevin Costner

Oprah Winfrey

Land Rover-humor

Nie almal is gek oor Land Rovers nie, hoewel hulle waarskynlik in die stilligheid gewens het hulle kan agter die stuur van een inskuif.

Na bewering is 90 persent van alle Land Rovers wat vervaardig is, nog op die pad. Die orige 10 persent het reeds hul bestemming bereik.

Verkeersbeamptes wens jou geluk as jy dit regkry om die spoedgrens te oorskry.

Wat vind jy op bladsy 4 en 5 van ’n Land Rover-handleiding? Die trein-en busrooster. Wat noem jy ’n Land Rover met remme? ’n Aangepaste weergawe. Land Rover-handelaars het vandeesmaand ’n spesiale aanbod op dié voertuie. Koop een, kry ’n hond gratis! Dan hoef jy nie alleen huis toe te loop nie. En laaste maar nie die minste nie: Land Rovers spog met die beste brandstofverbruik van alle 4x4’s . . . omdat hulle gereeld deur ander voertuie gesleep moet word.

Bronne: edition.cnn.com, autoexpress.co.uk, funrover.com, mailonline.co.uk

Saamgestel deur Annelene Oberholzer