“Van die begin af het ons eintlik onbewus daardie moeilikhede van buite aangegryp as ’n soort verskoning om ons ná ’n ruk van mekaar te kan losmaak. Dit lyk vreemd, maar nou, ná soveel jare, weet ek dat ons elkeen in die ander ’n droom en ’n herinnering gesoek het, nie ’n werklikheid nie. Elke mens het dit nodig, Reina: iets soets en vers om na terug te kyk wanneer hy ’n eie lewe met ’n eie maat begin bou. Die meeste mense het dit in die gedagtes aan hulle kindertyd – iets wat agter lê, maar deel is van hulle wese, iets wat hulle van tyd tot tyd kan besoek as die hede te veeleisend of skerp word. Dis ’n ontvlugting, maar tog ook meer. Dis ’n fondament waarop jy verder bou. Geen mens kon nog ooit sonder ’n droom klaarkom nie.”

“En jou kindertyd kon geen droom word  nie,” sê Reina langsaam. “Ook nie Helen s’n nie, omdat haar ouers dit nie vir haar besonder mooi gemaak het om kind te wees nie?”

“Ja. Toe het ons mekaar nodig gehad, sodat ons later kon terugkyk daarop en ons saamwees onthou as noodsaaklik vir ons hele verdere menswees.

“Sien jy, Reina? Ek en Helen kon nie trou en by mekaar die liefde vind wat jare en ’’n leeftyd kon hou nie. Dit was eenvoudig nie daarvoor bedoel nie.

So min as wat jy met jou kindertyd ’n huwelik kan aangaan, kon ek met Helen trou.”

Sy verstaan. Dis soos ’n las wat wegval en ’n lig wat in haar groei. Tot sy onthou van die bandjie.

“Jy wou weer haar stem hoor, nie waar nie? Wag, dan gaan ek dit vir jou haal.”

Toe sy met die bandmasjien terugkom, lê hy en wag. ’n Oomblik huiwer sy nog, nou nie meer uit vrees vir die stem wat tussen hulle sal kom nie, maar vir die woorde wat dit opnuut vir hulle albei moeilik mag maak: In my end is my beginning. Maar ten laaste moet hulle dit tog aanvaar dat sy einde ook die kiem is van ’n nuwe begin.

Laat Helen dit dan sê, as dit moet. Laat die pyn kom.

Sy druk die bandjie in, laat dit beweeg. Dewald sit vol verwagting regop teen die kussings en reik na haar hand.

Skielik ervaar sy weer die rus van gekleurde vensters en ’n klokkie wat ver lui, en toe kom die klank.

Maar dis nie Helen se stem wat Eliot voordra nie. Dis haar stem, Reina s’n, wat meteens ligweg tussen hulle neurie.

“Dewald!”

Hy glimlag, hierdie keer doen sy hele gesig mee. “Ek het dit een oggend opgeneem toe jy in die kombuis was,” sê hy.

“Dit was nadat ek verneem het dat ek . . . nie meer so lank by jou sal wees nie. Voor jy geweet het, Reina. Ek was bang jy sal ophou neurie as jy ook eers weet, en toe wou ek jou geneurie vaslê sodat ek daarna kan luister as die behoefte daar is. Dit was altyd so deel van ons 11jare saam, ek kon dit nie ontbeer nie.”

Helen se stem is nie meer daar nie. Ook dit is herinnering en ’n droom, niks meer nie. Dis afgevee van die bandjie sodat Reina daarop kan neurie. Sy moet veg teen die trane van ’n oorweldigende dankbaarheid, en ook nederigheid, wat dringend opstoot. Toe skakel die masjien af.

“ ’n Bandjie kan tog nooit meer as tweedehands wees nie,” sê sy sag.

“Dis op die mens self waarop jy aanspraak kan maak, Dewald!”

En toe neurie sy vir hom soos sy altyd in die kombuis en deur hul huis geneurie het – neurie deur die nuwe blydskap en deur haar pyn ’n einde en ’n begin tegemoet.