By die deur neem die vrou onverwags haar hand en hou dit ’n oomblik vas. Dis ’n aanraking wat Reina vreemd roer, want ook die vingers wat ligweg om hare vou, praat soos wat die oë praat.

Daar is ’n seën in hulle wat sy nog voel as sy reeds by die hekkie uit is en weer in die helderte van die besige stad staan.

Nou moet sy huis toe ry en tog maar tevrede wees om vir Dewald tweede beste te gee. En sy voel teleurgesteld, nie verlig nie.

Dit sou goed gewees het om haar liefde vir Dewald in dié offer te bewys; dit sou ’n suiwerte gebring het wat ’n besondere glans aan sy – aan hulle – laaste dae saam sou gegee het.

Dis middag as sy tuis kom, en sy is moeg ná die lang rit. Dewald leun nog rustig teen die kussings, maar daar is vermoeide lyne langs sy mond en as hy vir haar glimlag, raak dit net sy oë, nie sy lippe nie.

“Reina,” sê hy.

Dis nie ’n vraag of ’n eis nie, net maar die noem van haar naam. En juis dit laat iets in haar meegee. Sy wil nie, sy weet dat sy nou die sterkere moet wees sedert sy siekte, maar sy leun met haar kop teen sy bors en huil met diep, radelose snikke.

“Vertel my,” sê hy. Sy moenie, maar sy doen dit. Miskien is daar vir hom leniging van sy verlange in die wete dat sy dit wou stil.

Langsamerhand, terwyl sy praat , kom daar weer kalmte in haar gemoed. Dis soos dit vroeër was: dat sy teen hom leun, dat hy die een is wat troos en verstaan.

Toe sy klaar is, bly hy lank stil. Dan sê hy stadig, soekend na die regte woorde: “Daar is iets wat ek die laaste ruk vir jou wou vertel het, Reina. Ek wou hê jy moet dit weet, maar die tyd was nooit reg om daaroor te praat nie. Ek en Helen . . .”

“Ek weet dit mos,” sê sy vinnig.

“Jy het my alles vertel wat daar te wete is.”

“Nee.” Sy hand soek hare.

“Dis maar die laaste ruk dat ek dit self reg begryp. As ons mekaar werklik liefgehad het–dink jy nie dat ons, ek en Helen, dan ’n weg sou gesoek het om ons omstandighede te skik en tog te trou nie?”

“Ek het daaraan gedink, ja. Maar . . .”