SKIELIK is sy haastig. Voor sy kans kry om te twyfel, voor swakheid die oorhand kry,moet sy gaan.

“Dewald,” verduidelik sy toe sy kamer toe gaan, “ek moet stad toe. Daar is dingetjies om af te handel wat ek nou al lank uitstel en vanoggend sal die pad stil wees, ek kan gou terugkom. Ek sal mevrou Bruyns hier langsaan vra om by jou te kom sit.”

Hy vra nie uit nie; hy het immers sakebelange in die stad wat sy die laaste ruk vir hom behartig. Met afgewende oë groet sy, want as sy reguit na hom kyk, sal hy weet dat daar meer skuil.

Hierdie stil van ’n onbewuste, maar sekerlik diep verlange in hom moet kom sonder dat hy vooraf iets daaromtrent vermoed.

Daar kom baie gedagtes en herinneringe oor haar terwyl sy ry: vorige kere dat sy op pad was stad toe met nuwe hoop dat daar miskien dié keer iets van die besoek aan ’n spesialis sal kom. Ook dan, soos tuis, het sy graag geneurie.

Vandag klem sy haar lippe op mekaar en dis eers later, toe die stad al naby is, dat onverwagte, sagte portrette van haar en Dewald, van hul 11 jaar, voor haar opdoem en verlossing bring van die hede se verdriet.

Dis vreemd om met ’n stil tuinpaadjie langs te stap tot by die bruinerige gebou waarna sy vantevore gekyk het. By die portaal word sy deur ’n non ontvang en na ’n klein sitkamertjie gelei.

Dis ’n kaal plekkie met net die nodige meubels en, bo ’n verweerde kaggel, ’n kruis. Maar die vensters is gekleurd soos ’n kerk s’n en êrens hoor sy stemme soos sagte orrelklanke; sy onthou Dewald se woorde: “Dit gaan ’n mooi dag wees.”

Iemand kom om met haar te praat – ’nouerige vrou met oë wat diep kyk. Stotterend verduidelik Reina: dat sy Helen soek om net ’n rukkie saam haar te gaan en ’n sterwende te besoek wat behoefte het aan haar teenwoordigheid.

Die vrou kyk noukeurig na haar, sonder nuuskierigheid tog en sê dan:“Helen. Hier het sy ’n ander naam ontvang, maar ja, ek onthou haar. Sy was ’n goeie mens.”

“Was?” vra sy dan en hoor die geklepel van ’n klokkie êrens, ver agter die stilte en die stemme. Nou hou die stemme op; dis of alles wegraak behalwe die oë van hierdie vrou en die vensters wat gloei in die laat oggendlig.

“Sy is nie meer hier nie,” sê sy – is sy die moeder owerste? En sy wend geen poging aan omte verduidelik nie, asof alles wat moontlik oor die onderwerp gesê kan word, in dié enkele sinnetjie vervat is.

Reina maak haar mond oop om te vra: Is sy weg, terug Ierland toe? Of het sy vir haar ’n ander lewe gaan soek buite die stilte van die kloostermure? Maar iets weerhou haar. Sy staan op, kyk ’n laaste keer na die vensters.

“Dankie,” sê sy, asof ook dit alles moet sê wat in haar hart is.