Tóé, vir die jong Dewald en die jong Helen, het die woorde betrekking gekry op die einde van hulle vlamliefde. Nou . . .

Sy moet meteens wonder: Is dit hoekom Dewald die bandjie wil hê, om daardie woorde in die nuwe lig van sy lewenseinde te hoor? En is dit hoekom sy elke dag vaagweg belowe om dit vir hom te bring en dan dit nie doen nie?

Om en om draai sy die koppie wat sy lankal afgedroog het, en sy weet: Vandag moet sy eerlik wees. Die tyd is so min.

Goed, dan erken sy dit maar: Sy wil hom nie met Helen deel nie. Nie meer, nie nou nie.

Sy wil nie ’n ander vrou se stem tussen hulle laat opklink nie!

Elf jaar se saamwees gee haar tog die reg om alleen vir hom te sorg, alleen sy gedagtes op te eis solank dit nog moontlik is?

Maar dan, pynlik, moet sy ’n dieper waarheid erken: As die verlange na die bandjie tog daar is – wat help dit? En as sy hom werklik, waaragtig lief het, is dit nie juis nou die tyd om volkome selfloos teenoor hom te staan en sy laaste dae so mooi te maak as wat hulle kan wees nie?

Stadig loop sy na die lessenaar, trek die laaitjie oop waarin die bandjie lê. Dan huiwer sy weer. ’n Stem. Is dit genoeg? Eis die omstandighede nie van haar ’n laaste, volkome offer nie: om Helen self te gaan haal en na Dewald te bring?

’n Bandjie kan niks anders as tweedehands wees nie; dis tog die lewende mens self waarop ’n sterwende sy aanspraak kan maak?