Dit was ’n skok. Helen so naby! Later het sy by die klooster verbygery en stip na die bruinerige gebou gekyk, asof sy die mure wou dwing om pad te gee en Helen aan haar te toon.

Meteens moes sy wonder: As hulle getrou het, sou hulle nie tog die probleme opgelos gekry het nie? Sou hulle . . . kinders gehad het?

Sy wou nie, maar omdat hulle altyd vreesloos en eerlik teenoor mekaar gestaan het, het sy vir Dewald vertel. Hy was daarna baie stil. Eers toe hulle gaan slaap, het hy ingetoë gesê: “Ek hoop sy is gelukkig daar.

Ek glo dis vir haar moontlik om met haar kenmerkende oorgawe haar ook daar uit te leef.”

“Sy jy haar nie die een of ander tyd . . . gaan opsoek nie?”

Toe het hy effens verbaas gelag, of so het dit vir haar gelyk, en gesê: “Nee, Reina. Nee, natuurlik nie.”

’n Keer of wat daarna was hy stad toe en omdat sy hom geken het, het Reina geweet dat hy gewoonweg sy sake sou afhandel en terugkeer. Miskien tog daar by daardie klooster verbyry, soos sy ook gemaak het, niks meer nie.

Nadat hy teruggekom het, het hy die bandjie gespeel en na daardie laaste weemoedige woorde geluister wat Helen voorgedra het:

The wave cry, the wind cry, the vast waters Of the petrel and the porpoise. In my end is my beginning.