“Dis nie dat jy haar vervang het nie, Reina; dis onmoontlik dat een mens ’n ander se plek kan inneem. Jy het jou eie plek. Vir jou het ek ’n ander liefde – nie minder as wat dit sou gewees het as Helen nooit daar was nie, nee! Dis net anders, omdat jy ’n ander mens is as sy, omdat ons twee saam op ’n ander wyse by mekaar pas, op mekaar reageer.”

Toe het hy intens gesê: “Jy mág nooit aan my liefde vir jou twyfel nie, Reina!”

Mettertyd het sy dit so aanvaar. Miskien tog ook nie volledig nie, want sy kon nooit na daardie bandjie luister nie – nie saam met Dewald nie.

Een of twee keer het sy dit wel op die bandmasjien geplaas en daarna geluister wanneer Dewald weg was; nie om morbied te wees nie, maar in ’n poging om uit die stem meer van die mens Helen agter te kom, om te probeer vermoed hoe dit tussen haar en Dewald was.

Hy het self ook van tyd tot tyd die bandjie gespeel en dan het sy hom stilweg alleen gelaat, want vir hulle albei saam, gelyk, kon daar nie by Dewald plek wees nie.

Maar geleidelik deur die 11 jare het Helen minder vir haar begin saak maak. Daar was ander, driftiger kwellinge: veral dat sy nie aan Dewald ’n kind kan gee nie.

Hoe het sy nie van een spesialis na die ander geswerf met hoop wat geweier het om heeltemal te sterf nie!

Dis op een van dié uittogte dat sy ’n ou kennis van Dewald in die stad raakgeloop het. Op ’n vreemde aandrang van die oomblik het sy hom uitgevra oor Helen, want hy het haar ook geken.

“Nee,” het hy gesê, “sy is nie terug Ierland toe nie. Kort nadat sy en Dewald uit mekaar is, het sy hier in die stad na ’n klooster gegaan. Wou non word en haar volkome aan haar godsdiens wy, jy sien, omdat daar vir haar ná Dewald niemand anders kon wees nie.”