Terug indie kamer sê hy meteens: “Jy moet nog vir my die bandjie bring, Reina. Dis in een van die lessenaar laaie.” Sy antwoord nie, en hy dring aan: “Vandag?”

“Vandag,” knik sy met moeite.

Toe praat hulle oor iets anders. Sy help om hom gemaklikte maak in die bed, bring nog kussings en sy boek. Dan gaan sy kombuis toe om hul koppies te was en vir haar ’n stukkie roosterbrood te maak.

Die hele tyd vreet die gedagte aan die bandjie aan haar. Hy vra lankal daarna.

Die bandjie met die gedig daarop; iets van Eliot. Helen se stem wat met innigheid voordra en Dewald daarmee weer – altyd weer – terugvoer na die tyd toe hy haar liefgehad het.

Nie vir Reina nie, maar vir Helen. Sy het altyd geweet. Dewald het self vir haar vertel, heel in die begin al. Tussen hulle was nooit toe boeke en grotte van versteekte emosies nie.

“Dit was ons albei se eerste liefde,” het Dewald gesê.

“Sy, fel klein. Ier wat as kind na die land gekom en nooit wortel geskiet het nie omdat haar ouers te besig was om haar te help mak word in ’n nuwe wêreld; ek met my wees huis verlede. Albei van ons essensieel dromers. O, dit was iets pragtigs, die ding tussen ons. Dit het gevlam en geknetter. Sy kon so mooi gedigte voordra; ek het ’n bandjie hier waarop sy spesiaal vir my ’n gedig voordra.”

Dis toe dat sy van die bandjie verneem het. “En wat gebeur?” wou sy weet. “Hoekom het julle nie . . .?”

“Buite ons om ons was soveel dinge wat ’n permanente verhouding kon skaad,” het hy sy skouers opgehaal.

“Sy was ontuis in hierdie land en wou terug. Sy was van huis uit Engels. En sy was Katoliek. Nee, uiteindelik sou dit nie gedeug het nie. Ons is uitmekaar toe alles tussen ons nog sonder letsels was: So sou dit altyd in die herinnering kon voortbestaan.”

“En ons? Ek en jy? Ek?”

“Hoe verduidelik ’n mens so iets?”

Hy het ’n hulpelose gebaar met sy hande gemaak.