DEUR ELSABE STEENBERG

SELFS in die eerste oggendlig, as sy traag opswem uit die newels van ’n kortstondige slaap, is die wete deel van haar: Dis byna verby.

Elf jaar was hulle saam, en nou is dit byna verby. Al wat oorbly, is die finale ontsetting van die laaste vaarwel.

“Dewald . . .”

Onwillekeurig noem Reina sy naam, meteens oorval deur die skrik dat hy nie meer daar is nie, dat hy dalk gedurende haar vlugtige insluimering van haar weggegaan het.

Maar toe sy na hom draai, is sy vermoeide oë op haar gerig en hulle glimlag teer.

“Dit gaan’n mooi dag wees,” sê hy, soos hy byna elke oggend sê. Van die pyn praat hy nie.

Sy staan op en vra: “Wil jy iets hê om te eet, of te drink?”

“Tee,” knik hy sonder dat sy oë haar loslaat.

“Tee met suurlemoen en ’n bietjie heuning, Reina.”

Waarskynlik sal dit die pyn vererger, maar sy sê niks daarvan nie.

Daar is so min dinge waarvoor hy nog lus is, en toe hy hierdie laaste keer teruggekom het van die hospitaal, het die dokter sy delinge gesê: “Laat hom maar eet wat hy wil, solank dit hom plesier gee.”

Terwyl sy in die kombuis werskaf, dink sy aan hul 11 jare saam.

Hulle was altyd gelukkig; hul liefde was ’n bestendige vlam wat albei gevoed het. Dit was haar gewoonte om soggens–ag, sommer heeldag–hier in die kombuis te neurie terwyl sy haar werkies verrig.

Nou doen sy dit nooit meer nie; sy kan nie. Dewald het maagkanker.