THE VISITOR ****

Drama. Met Richard Jenkins, Haaz Sleiman, Danai Jekesai Gurira en Hiam Abbass. Regie: Thomas McCarthy. 2007. 104 min. 16T.

Walter Vale (Jenkins), ’n middeljarige professor, sukkel ná die dood van sy vrou, ’n konsertpianis, om koers te kry. Hy is verveeld met die kursus wat hy aanbied en vorder nie met sy klavierlesse of die boek wat hy probeer skryf nie. Dan kom hy twee onwettige immigrante teë: Tarek (Sleiman), ’n Siriese musikant, en Zainab (Gurira), ’n Senegalese juweelontwerper. Tarek leer hom die djembe, ’n Afrika-trom, speel. Op dié manier kan hy uiting aan sy gevoelens gee en uit sy groef kom. Toe Tarek gearresteer word, smee Walter ’n band met sy ma, Mouna (Abbass), ook ’n onwettige immigrant, en raak by hul stryd betrokke om in Amerika te kan aanbly.

Die veteraan-karakterakteur Jenkins – Burn after Reading se gimbestuurder – skitter in sy eerste hoofrol. Dis ook ’n uitmuntende opvolg van die skrywer en regisseur McCarthy se indrukwekkende debuut, The Station Agent. Hy bekyk moeilike onderwerpe uit ’n eg menslike hoek sonder om hom tot maklike oplossings of ’n gelukkige einde te wend. Dis ’n ernstige maar bevredigende rolprent. Bonus: kommentaar, kortflieks.

Op die internet

- www.thevisitorfilm.com

Het jy al hierdie DVD gekyk? Skryf sommer 'n resensie dan hieronder in die kommentaarveld.