Vrydag 15 November

  • Pokemon Ranger & The Temple Of The Sea, e.tv 14:30: Net die fliek waarmee jy die kinders op ’n Vrydagmiddag kan besighou. Pokemon Ranger Jackie baklei teen ’n spul bose seerowers wat groot oproer ter see veroorsaak.
  • O’ Brother, Where Art Thou?, SABC3 20:30: Lus vir iets aweregs? Dan is dié fliek deur die Coen-broers net die regte medisyne. George Clooney, John Turturro en Tim Nelson speel singende voortvlugtige misdadigers in die Diep Suide in die 30’s. Dis skreeusnaaks en daar is lekker musiek.
  • SleepTV, kykNET, 21:00: Vir hul volgende bestemming besoek die SleepTV-span die Mekka van natuurtoerisme in ’n skilderagtige omgewing. Die Blyde Canyon, ’n Forever-oord in Mpumalanga, is geleë in die wonderskone Blyderiviervallei-natuurreservaat. Padlangs op die beeldskone Panorama-roete deel hulle Sleep-raad oor tweedehandse woonwa koop en loer in by Graskop en die geskiedkundige dorpie Pelgrimsrus. Hulle hou ook stil by een van die talle aftrekplekkies, en Beáte en John-Henry koop ’n stukkie Afrika-kuns voor hulle kamp opslaan by hul eindbestemming. Die aanbieders het onlangs verloof geraak, so ons is seker dié stukkie kuns gaan mooi in hul huis pas!

Saterdag 16 November

  • Bushwacked, e.tv 14:00: Dis die fliek vir jou as jy lus het vir outydse komedie. Daniel Stern (die “ander” booswig in die Home Alone-flieks) is weereens besig met sy streke; dié keer ontduik hy die polisie en maak of hy ’n troepleier is wie se oorlewingstegnieke hom in die moeilikheid kan laat beland pleks van hom daaruit hou.
  • Eight Below, SABC3 19:30: Die oulike ou van die Fast & Furious-flieks (Paul Walker) verruil perdekrag vir hondekrag in dié fliek oor ’n sleehondeafrigter wat sy basis in die pole moet ontruim weens ’n storm en gedwing word om sy geliefde honde agter te laat. Die idee is om hul later te gaan red, maar dan word dié sending afgelas.

Sondag 17 November

  • Magic Mike, M-Net 20:00 Ietsie vir die oog. Daar is nie juis ’n intrige nie en die humor is middelmatig, maar sodra die musiek begin speel, maak dit nie meer saak nie, want Channing Tatum en sy pelle laat die klere waai en bult spiere as manlike ontkleedansers.
  • Internasionale rugby: Suid-Afrika teen Skotland (regstreeks), Supersport 17:00: Die Bokke sê die Skotte in hul agterplaas die stryd aan en sal hoop om voort te bou op hul oorwinning oor Wallis verlede naweek. Die afskop is sesuur, maar vang van vyfuur af gees saam met die Supersport-span.