Die twee krakers, Charlie Miller, ’n navorsers vir Twitter, en Chris Valasek, ’n direkteur by die sekuriteitsonderneming IOActive, vors al jare lank motors se sekuriteitstelsels na. Voorheen kon die twee ’n motor se stelsels net oorneem as hulle dit van ’n skootrekenaar af kraak terwyl hulle in die motor sit. Maar in ’n video wat op YouTube gelaai is, wys hulle jy kan van kilometers ver af net soveel skade aanrig met net ’n selfoon en ’n skootrekenaar.

Nadat hulle van ’n afstand af toegang tot die 2014-model Jeep Cherokee se rekenaarboks kry, saai die krakers chaos in die motor. Aan die begin van die kraaksessie blaas koue lug uit die luggate, skakel die radio op sy heel hardste aan en begin die ruitveërs werk terwyl ruitveevloeistof uitspuit wat die glas wasig maak. Die video toon ook ’n foto van die twee krakers wat op die motor se digitale raakskerm verskyn kort nadat hulle daartoe toegang verkry het.

Andy Greenberg, ’n skrywer van die tegnowebtuiste Wired wat die Jeep Cherokee tydens die toets bestuur het, sê: “Die skokkendste maneuver was toe hulle die Jeep se remme uitskakel en my verwoed die pedaal laat pomp terwyl die sportnutsvoertuig van 2 t buite beheer tot in ’n sloot gly.” Hy voeg by: “Hul kraak maak ook waarneming moontlik: hulle kan ’n geteikende Jeep se GPS-koördinate vasstel, sy spoed meet, en selfs met spelde op ’n kaart sy roete naspoor.”

Volgens die krakers wat die eksperiment uitgevoer het, kan meer as 470 000 motors wat deur Fiat Chrysler Automobiles (FCA) vervaardig is die gevaar loop om op ’n soortgelyke manier binnegedring te word.

Fiat-Chrysler, wat die Jeep Cherokee vervaardig, het die twee sekuriteitsnavorsers gekritiseer omdat hulle die publiek gewys het hoe hulle die weeldemotors se stelsels kon binnedring.

“Onder geen omstandighede keur Fiat-Chrysler dit goed of meen dit is gepas om inligting bekend te maak wat krakers moontlik kan aanmoedig of help om ongemagtigde of onwettige toegang tot voertuigstelsels te verkry nie,” het die motorvervaardiger in ’n verklaring gesê.

Charlie het die openbaarmaking van sy navorsing verdedig deur aan te voer hy is aan dieselfde kant as Fiat-Chrysler.

“Ons albei wil dieselfde ding hê: om bestuurders teen ’n kuberaanval veilig te hou. Al wat ek kan doen, is om die foute in hul voertuie uit te wys, ander navorsers aan die probleem te laat werk en voorstelle te maak.”

Die onderneming, wat met die twee krakers in verbinding was, het ’n programbywerking uitgereik wat hulle beweer hul voertuie teen sekuriteitskwesbaarhede sal beskerm. Eienaars moet hul voertuig na die handelaar neem of die sagteware met ’n USB-stokkie aanpas om die sekuriteitsbywerking te benut.

VIDEO:

BRONNE: TELEGRAPH.CO.UK, WIRED.COM, BLOGS.WSJ.COM/DIGITS