DEUR MARITA VAN DER VYVER

DIE volgende oomblik skrik sy so dat sy byna haar balans verloor. Agter haar hoor sy ’n diep mansstem uit die plafon van die kapel dreun. Slegs ’n frase of twee, vir haar onverstaanbaar in Kroaties.

Toe sy terugdraai na die deur en oor die drumpel tree, sien sy hoe die poetsvrou opstaan – steunend, met ’n hand op haar geswelde linkerknie in lelike, bleek kouse, maar met ’n salig tevrede uitdrukking op haar gesig – en die dweil in die emmer vuil water dompel om voort te gaan met haar beskeie taak.

Wat was dít? wonder Sandra terwyl sy die binnekant van die kapel bestudeer, op soek na ’’n versteekte luidspreker in die plafon, ’n bandmasjien iewers, enige verklaring vir die onverklaarbare verskynsel wat sy pas met haar eie oë en ore waargeneem het. ’n Opperwese wat ’n poetsvrou se gebed beantwoord?

Onmiddellik, duidelik hoorbaar. In Kroaties!? Sy stap haastig by die kapel uit, skielik bang dat sy ’n bewys van ’n gekul iewers gaan opmerk. Waarom kan dit nie ’n wonderwerk wees nie, vra sy haar af met ’n gemoed wat ál ligter voel. Dit hang alles af van hoe jy daarna kyk, nie waar nie?

Buite voor die deur draai sy vir oulaas terug. Dís toe sy die leer sien uitsteek. Sy stap om die gebou tot by die leer. Hoog in die muur is ’n smal venstertjie in ’n nis, en op die rand van die nis hurk ’n jongerige man wat besig is om die glas met verveelde hale skoon te vryf. Toe hy bewus word van haar blik, kyk hy af na haar en lyk ’n oomblik – net ’n oomblik – soos ’n kind wat met sy hand in ’n blik koekies betrap is.

Dan trek hy sy skouers op, grinnik verskonend, en plaas ’’n vuil wysvinger voor sy mond. Sandra draai van die vensterpoetser weg en stap terug na die voorkant van die gebou, haar tred nou so lig soos haar gemoed, verby die tapyte, al met die bospaadjie terug na die kusdorpie.

Something to see, het Jandra haar belowe. Dalk was dit tog ’n soort wonderwerk wat sy pas aanskou het. Dit voel in elk geval soos ’n geskenk. Haar eerste geskenk vir hierdie eerste Kersfees op haar eie.