DEUR MARITA VAN DER VYVER

SY SNUIF die reuk van dennenaalde diep in, haar oë op die see terwyl die voetpaadjie geleidelik steiler word. So ’n kalm see dié, selfs in die winter, die klotsende golfies so anders as die woeste branders van die Weskus wat sy ken.

Die asemwolkies voor haar mond beteken dit moet steeds koud wees, maar sy bibber lankal nie meer nie. Haar vinnige pas teen die steil paadjie het haar lyf laat ontdooi.

Sy steek verras vas toe ’n beskeie klipgeboutjie onverwags voor haar opdoem – hurkend op die rand van ’n krans, gesig na die see, deur wawyd oop soos die mond van ’n gapende mens.

’n Smal kliptoring met ’n kruis is al aanduiding dat dit nie bloot ’n huis of ’n buitegebou is nie. Wat haar nog meer verras, is die hoop tapyte wat in die flou oggendson oopgesprei lê, sommer so langs die paadjie, asof ’n smous hulle wil verkwansel. En sy hoor ’n stem in die kapel.

Sy stap nuuskierig nader en klim die drie trappies tot by die deur. Terwyl sy op die drumpel staan en wag dat haar oë gewoond raak aan die skemer binnekant, luister sy na die ontstigte toon van die vrouestem.

Dan sien sy die lywige middeljarige vrou op die trappie voor die altaar sit, besig om haar lot teenoor iemand te bekla. Sy hou ’n dweil in haar een hand vas en daar staan ’n emmer vuil water voor haar voete in afgesloofde geruite pantoffels. ’n Poetsvrou wat die kapel skoonmaak? Vir ’n spesiale Kersdiens?

Maar daar is niemand anders in die kapel nie. Dis leeg binne, geen stoele of ander meubels nie, geen gebrandskilderde vensters of indrukwekkende beelde nie.

Niks of niemand, behalwe die verontwaardigde vrou wat haar oë op die plafon hou terwyl sy eenstrykdeur praat, onbewus van die buitestander wat op die drumpel aarsel. Dalk is sy blind?

’n Blinde poetsvrou? In ’n verlate kapel op die rand van ’n krans? Die gedagte is so absurd dat Sandra ’n senuweeagtige giggellaggie moet afsluk.

Dan tref dit haar. Die vrou moet besig wees om te bid. Die oë wat onsiende boontoe kyk, die totale konsentrasie, dis tog die tipiese beeld van ’n biddende figuur. (Behalwe vir die dweil.)

Maar dan is dit beslis die gemoedelikste bidsessie wat Sandra nog aanskou het. Die vrou praat met ’n Opperwese asof sy oor ’n heining met ’n buurvrou klets. Soms klink sy soos ’n ma wat met ’n stout kind raas, verontwaardig maar liefdevol. Soms meer soos ’n gefrustreerde vrou wat haar man met ’n skerp tong kritiseer. Maar altyd met ’n ondertoon van verdraagsaamheid.

Dis so ’n intieme toneel dat Sandra dit nie oor haar hart kan kry om dit te versteur nie. Sy bly in die deur staan, maar draai haar rug op die poetsvrou om oor die see uit te kyk.

Die ligging van die kapel is voorwaar asemrowend genoeg om selfs ’n ongelowige aan die bid te kry. Sy tree versigtig tot op die rand van die afgrond. Vêr onder haar vorm die wit skuim  van die golwe teen die grys krans ’n kartelende roomrandjie soos om ’n hoë troukoek. Sy voel soos die bruidfiguurtjie op die hoogste laag van die troukoek toe sy nog verder vorentoe leun.