DEUR MARITA VAN DER VYVER

SY KIES koers deur ’n dennebos na die kapel waarvan die meisie in die toeristeburo haar gister vertel het. Jandra, volgens haar naamplaatjie, die hoeveelste Jandra wat Sandra in Kroasië raakloop. Skynbaar so algemeen soos haar eie naam in Suid-Afrika – en tog soveel meer eksoties vir haar Afrikaanse oor.

Niks is op sigself eksoties of vreemd nie, besef sy; dis bloot die buitestander se blik wat dit vreemd maak. Wonderwerke en toorkuns bestaan lankal nie meer nie; dit hang alles af van hoe jy daarna kyk. Sy word te sinies vir haar ouderdom, vrees Sandra. Een van die gevare van jeugdige toerisme. Volg net die voetpaadjie tot dit doodloop teen ’n kapelletjie op ’n krans hoog bo die see, het Jandra verduidelik.

“Something to see,” het sy met ’n angstige glimlag beklemtoon, asof dit háár skuld is dat die omgewing nie aan Sandra se toeristiese verwagtinge voldoen nie.

In die somer is dit ’n bedrywige kusdorpie vol vrolike vakansiegangers, dit kan jy uit die foto’s in die toeristebrosjure aflei. Skares sonaanbidders op die klipperige strand, musiek in die maanlig, seiljagte wat kom en gaan. Maar soos vele kusdorpies in Suid-Afrika word dit in die stil winter byna ’n spookdorp.

Soos Elandsbaai waar haar eie familie elke Kersfees saamtrek. Haar pa het gehoop sy sou haar spaargeld gebruik om huis toe te vlieg, haar ma wou die gemeste kalf slag om haar kind vet te voer ná ’n jaar in die vreemde, haar broer en suster en niggies en neefs en ooms en tantes het laat weet hulle mis haar. Maar vir Sandra was hierdie eerste Kersfees op haar eie ’n verklaring van onafhanklikheid. Sy oorleef nou al ’n jaar lank in ’n wêreldstad ver van haar geliefdes. Sy wil kyk of sy nog ’n jaar kan uithou.

As sy nou ’n somerse Krismis-by-die-see moes deurbring, met Pa se biltong en Ma se gemmerkoekies en groot raserige familie-etes elke dag, sou sy dalk nie die moed gehad het om terug te vlieg na die kilheid en die koue van Londen nie.