Deur Mari-Louis Guy

DIE twee Kokkedoor-reekse was erg dinamies vir Afrikaanse TV. Sommer oornag het dit ’n welkome vernuwing na ons koslandskap gebring. Al was dit net drie jaar gelede, is dit in my kop reeds vergelykbaar met ikoniese programme soos Haas Das en Dokter Dokter . Eensklaps het Suid-Afrikaanse kykers verlief geraak op Tannie Poppie, die handsome Tiaan, vrolike Trudie, deegmeester Theresa, kinkelkoning Mynhardt, liewe Toitnett. Op voornaam-basis. Huisgenote.

Toe Kokkedoor op die kassie verskyn, het ek en boet Callie Maritz pas die lof van basaars besing in ons derde boek, Markdag. Toe die uitnodiging kom om as gaste op Kokkedoor se basaar-episode te verskyn, het ons alte gretig koers gekies Prince Albert toe. Ek vermoed ons was salig onbewus van die massiewe invloed wat die verskyning op ons lewe sou hê. Hegte vriendskappe is gesmee en nou ja, hier staan ek nou as medebeoordelaar van Koekedoor en dit is alweer basaartyd. So reg in my kraal.

In die tuisgebak-afdeling moes deelnemers daardie grootse treffer uit die 1970’s bak: onderstebokoek. Die variasies was verruklik. Martjie se pruim-en-tiemie-koek was besonders en Gerrit se appelkooskoek met baie netjiese afronding het beïndruk.

Toe dit by fyngebak kom, het ek die bakkers die uitdaging gestel om my sjokolade-wolkekrabberkoek na te boots. Callie het al baie gesê ek neig altyd hemel toe met my koeke, en hier, so tussen die twee soorte koeke en twee soorte versiersel en boonop sjokolade-stokkielekkers deur, het baie van die deelnemers maar kleigetrap.

Die pronkgebak-uitdaging was my gunsteling en na my mening was die gesogte lootjieskoek die eerste werklike groot toets van ontwerp en kompeterende denke.

Die basaar-lootjieskoek het gelei tot ’n groot verskeidenheid ontwerpe en interpretasies. Gerrit se styl van amperse oorversiering het perfek by die opdrag gepas en Mareli kon haar baie kreatiewe gedagtes uiteindelik vrye teuels gee.

Niemand is in hierdie episode huis toe nie, wat vir almal op stel ’n groot verligting was. Ek dink ons almal, die beoordelaars inkluis, het hierdie bietjie asemskep nodig gehad.

Mari-Louis Guy is ‘n beoordelaar van kykNET se Koekedoor-werklikheidsreeks, professionele kosstilleerder en resepontwikkelaar. Sy gaan gereeld vir Huisgenoot.com blog oor Koekedoor en so ‘n kykie agter die skerms gee.