Mynhardt Joubert

Dis al maande vandat hy en Tiaan Langenegger die Kokkedoor-kroon omhoog kon hou, maar vir Mynhardt (38) voel dit nou nog soos ’n droom.

“As ek kon, sou ek weer deelgeneem het,” sê hy. “Dit was een van die ongelooflikste tye van my lewe. Ek gun wie ook al die volgende seisoen wen, ’n wonderlike lewenservaring, nes myne.”

Mynhardt kry binnekort ’n kans om die Suid-Afrikaanse vlag in Europa te laat wapper. “Die KWV het my genader om hul handelsmerkambassadeur te wees; ons gaan later vanjaar in België, Swede en Noorweë toer en Suid-Afrikaanse onthoukos met ’n kinkel, net soos ons in die reeks berei het, na die wêreld bring.”

Hy hou hom tussendeur besig met kosdemonstrasies en spyseniering, en tel al die dae af tot die nuwe seisoen begin. “Dit gaan wonderlik wees om te sien hoe die program gegroei het en ek gaan weet watter emosies elke deelnemer ervaar.”

Sy raad is, hou dit eenvoudig. “Moenie te veel ego by jou kos gooi nie. Dis soos te veel sout: As dit eers in is, kan jy niks daaraan doen nie.”

Tiaan Langenegger

Hy skerts dit gaan moeilik wees om van sy “troon” afstand te doen, maar Tiaan (27), wat saam met Mynhardt Joubert die eerste seisoen gewen het, staan reg om die nuwe wenners geluk te wens.

“Dis ’n bietjie hartseer, maar dis tyd vir nuwe uitdagings. Ek is opgewonde vir die volgende wenpaar, want ek weet watter ongelooflike reis op hulle wag.”

Behalwe die R250 000 en kookboekkontrak wat hy en Mynhardt losgeslaan het, het die kookprogram Makietie ook in hul skoot beland; dit word nou op kykNET uitgesaai.

Intussen wikkel die manne om die Makietiekookboek teen September vanjaar op die winkelrakke te kry.

“Ek werk nou vir myself,” vertel Tiaan, “en ek het my hande vol met kosdemonstrasies, vroueoggende en spyseniering.”

Wat is sy geheim om koning te kraai in dié reeks? “Moenie kook om te wen nie. As jy te mededingend raak, konsentreer jy nie meer op die kos nie.”

Christiaan Boonzaier