Hy het nooit kon droom die spysenieringsonderneming wat hy 14 jaar gelede begin het, sou so uitbrei nie, maar ná sy verskyning in Kokkedoor bars Rendil Pietersen (36), van Wellington, se Kings Catering uit sy nate.

“Ek kan nie ophou rondhol nie, en ek kan nie ophou werk nie; ons is elke dag besig,” sê hy amper uitasem.

“Ek het nie gedink ek sal ooit klante moet wegwys nie, maar ons kan net nie bybly nie. Ek is ongelooflik dankbaar.”

Om hom vir al die harde werk te beloon, het hy onlangs ’n paar weke in Hongkong, Viëtnam, Phoeket en Bangkok gaan reis. “Kokkedoor neem my regtig op ’n

wêreldtoer.”

Ongelukkig gaan hy nie van die geheime resepte waarop hy sy klante trakteer, in ’n kookboek publiseer nie. “Dalk later, maar nie nou nie,” sê hy.

Hy hoop daar gaan meer bredies en bobotie in die nuwe seisoen wees, en hy het ’n uitdaging vir die nuwelinge: “Ons het ’n hoë standaard gestel, maar die nuwe groep moet dit nog verder voer. Ek verwag meer van hulle, maar ek is doodseker hulle gaan dit tjop-tjop opdis.”

Christiaan Boonzaier