EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

TRUDIE NIEHAUS (ONTHOUKOK)

Huidige beroep: Dramadosent.

Geboortedatum: 6 Oktober 1955.

Is jy getroud: Ja.

Waar woon jy: George, Wes-Kaap.

Waar het jy leer kook: Boeke, demonstrasies en kosprogramme.

Wat is jou gunsteling-geur in die kombuis: Kaneel.

Watter gereg maak jy die graagste: Bredies.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Pasop vir die boonste element van die oond.

Ek kan nie kook sonder . . . botter en/of suiker.

Trudie is ’n blymoedige en spontane mens en dra haar hart op haar mou. Dié deeltydse dramadosent van George noem ‘n ding op sy naam. Sy lees resepteboeke soos storieboeke en het ’n formidabele versameling kookboeke waarvan die oudste al in 1928 uitgegee is. Trudie hoop dat Kokkedoor haar die geleentheid sal bied om haar humorsin, stories en kos te deel, maar wonder tog of sy gaan wen oor haar “gebak of bek”.