EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

TOINETTE DU TOIT (KINKELKOK)

Huidige beroep: Spysenier.

Geboortedatum: 18 Februarie 1980.

Is jy getroud: Ongetroud.

Waar woon jy: Tussen Montagu en Barrydale, Wes-Kaap.

Waar het jy leer kook: By my ouma San.

Wat is jou gunsteling-geur in die kombuis: Vars gebakte brood.

Watter gereg maak jy die graagste: Enigiets wat my na my ouma laat verlang.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Kook altyd met ’n knippie liefde.

Ek kan nie kook sonder . . . vars kruie en groente nie.

Sy glo gasvryheid gaan hand aan hand met kos en sy geniet die hele kookproses: van die skil tot die smul. Toinette skrik nie sommer vir ’n uitdaging nie; sy hoop om ’n bemagtingingsprojek op die been te bring vir die plaaswerkers in haar omgewing sodat hulle selfonderhoudend kan wees. Haar lewensfilosofie: As jy iets gaan aanpak, moet jy probeer om die beste daarin te wees. Selfs al besluit jy om ’n straatveër te word, wees dan die beste straatveër.