EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

TIAAN LANGENEGGER (KINKELKOK)

Huidige beroep: ’n Sjef by Ouverture in Stellenbosch se omgewing. Dis een van Eat Out se 10 voorste restaurante.

Geboortedatum: 28 Oktober 1986.

Is jy getroud: Ongetroud.

Waar woon jy: Stellenbosch.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Proe altyd heeltyd alles.

Ek kan nie kook sonder . . . kaas en botter nie.

Tiaan kon al witsous maak en pannekoek bak as seuntjie nog voor by behoorlik by die stoof kon bykom. Sy ma en ouma het hom toegerus met al die nodige kennis in die kombuis wat hy later versterk het met ’n Guilds Diploma in professionele kookkuns en nagereg. Hy is ook al aangewys as Belowendste Jong Sjef in Suid-Afrika en staan vir niks in enige kombuis terug nie. Brood is een van sy groot gunstelinge. Tiaan sê broodbakkery is vir hom so intens, hy voel dis selfs “iets waarmee jy ’n verhouding kan aanknoop”.