EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

SAREL LOOTS (KINKELKOK)

Huidige beroep: Ek hou my besig met kos en handwerk.

Geboortedatum: 29 Januarie 1969.

Is jy getroud: Ja.

Waar woon jy: Sabie, Mpumalanga.

Waar het jy leer kook: Ek het my self leer kook met behulp van Kook en Geniet.

Wat is jou gunsteling-geur in die kombuis: Vanielje.

Watter gereg maak jy die graagste: Roomys.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Geniet dit.

Ek kan nie kook sonder . . . my mes nie.

Sarel hoop om met sy deelname aan Kokkedoor, sy liefde vir geskiedenis met sy liefde vir kook te kombineer. Hy geniet die buitelewe en gebruik dit as inspirasie vir sy geregte. Dit is vir hom baie belangrik dat ons kinders leer van hul herkoms en hy glo kos is die allerbeste bron van geskiedenis. Hoewel hy tradisies en herkoms koester, is dit vir hom belangrik om nuwe dinge te beproef, selfs moderne maniere om ou tradisionele geregte te berei. Hy hoop om hier Kokkedoor te kraai!