EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

RIËTTE STRYDOM (ONTHOUKOK)

Huidige beroep: Bedryf ’n spitbraai-onderneming.

Geboortedatum: 9 Junie 1969.

Is jy getroud: Ja.

Waar woon jy: Amanzimtoti, KwaZulu-Natal.

Waar het jy leer kook: By my ouma Stella.

Wat is jou gunsteling-geur in die kombuis: Vars brood.

Watter gereg maak jy die graagste: Enige nagereg.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Die eerste bestanddeel is liefde.

Riëtte se leuse is, as jy nie weet hoe om iets te doen nie, dan leer jy, “want ek kan!” As ma van twee is die belangrikste les aan haar dogters om alles met liefde te doen. As jy nie lief is vir wat jy doen nie, gaan dit ook nie lekker wees nie. Hoewel sy dikwels haar ouma Stella se resepte gebruik, verander sy dikwels daaraan vir ’n hedendaagse kinkel. Sy hou daarvan dat haar kos baie pizzaz moet hê en deel graag haar resepte met vriende. Sy hoop om iets te skep waaraan niemand nog gedink het nie. “Iets wow!”