EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

RIEKIES HUISAMEN

Huidige beroep: Uitreikprojekoördineerder.

Geboortedatum: 13 November 1962.

Is jy getroud: Ja.

Waar woon jy: Krugersdorp, Gauteng.

Waar het jy leer kook: By my ma en vriendinne.

Wat is jou gunsteling-geur in die kombuis: Vars koffie.

Watter gereg maak jy die graagste: Enigiets met ’n degie of ’n korsie.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Jy moet kan proe en met sekerheid aanbied.

Ek kan nie kook sonder… suurlemoen en botter.

Riekies is ’n familiemens en geniet dit om iets uit niks te skep. Mense wat haar ken, vertel haar energie is onuitputlik en sy hoop die ander is reg vir haar. Sy wy die meeste van haar tyd aan gemeenskapsontwikkeling en is die projekkoördineerder van haar gemeente. Haar benadering tot die lewe en kook is om te werk met wat jy het. Sy is een van ’n tweeling en woon saam met haar man op Krugersdorp. Albei hul kinders is reeds uit die huis. Sy het onlangs vir haar dogters ’n resepteboek saamgestel: Daaglikse Dankiebrood uit Mama Riekies se Disasterous Kombuis.