EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

RENDIL PIETERSE (KINKELKOK)

Huidige beroep: Spysenier.

Geboortedatum: 23 November 1977.

Is jy getroud: Ongetroud.

Waar woon jy: Wellington, Wes-Kaap.

Waar het jy leer kook: Myself en by my ma.

Wat is jou gunsteling-geur in die kombuis: Knoffel.

Watter gereg maak jy die graagste: Kerrie.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Hou die werkoppervlak skoon.

Ek kan nie kook sonder . . . ’n  sjefsmes nie.

Pasop wanneer Rendil Pietersen in jou kombuis is; hy hou daarvan om in ’n koelkas te snuffel. Rendil het die skool al vroeg verlaat, maar nietemin bestuur hy en ’n vennoot die afgelope jare ’n geslaagde spysenieringsonderneming op Wellington. Hy glo dis deur diens en deursettingsvermoë dat mens sukses behaal. Hy is hardwerkend en stel ’n baie hoë standard vir almal wat in sy kombuis werk. Een van sy grootste drome is om eendag sy eie lokaal vir geleenthede te besit.