EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

PETRO LOTZ (KINKELKOK)

Huidige beroep: Spysenier.

Geboortedatum: 13 November 1965.

Is jy getroud: Ja.

Waar woon jy: Oos-Londen, Oos-Kaap.

Waar het jy leer kook: Uit boeke en deur mense dop te hou.

Wat is jou gunsteling-geur in die kombuis: Suurlemoen en tiemie

Watter gereg maak jy die graagste: Eenvoudige kos met ’n verrassing.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Kyk wat jy het voor jy begin kook.

Ek kan nie kook sonder . . . om te weet ek kook vir mense wat lief is vir kuier en kos.

Dié sakevrou is hier om te wen en ook om ’n bietjie glans aan die reeks te bied. Sy glo kos moet glansryk wees en was al ’n gaskok aan die Nataniël Tafel. Petro is verslaaf aan lees, veral kookboeke, hoewel sy nie van resepte af werk nie. Haar grootste droom is om ’n kospersoonlikheid te word en sy glo sy kan dalk net die Susan Boyle van Kokkedoor wees.