Die tweede finalis in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 8nm op die betaalkanaal afskop. Die spul is in twee kategorieë ingedeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in 'n kombuis ken. Hulle kook uit hulle harte en met 'n passie wat spruit uit jare lange ondervinding. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul oumas, ma's en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjefs-opleiding of professionele ondervinding in 'n kombuis het. Hulle is innoverend en ken hul storie as dit by nuwe resepte, metodes en bestanddele kom. Hulle kan onthoukos 'n splinternuwe kinkel gee, 'n nuwe baadjie aantrek en sommer ook sommer nuwe vlerke in die toekoms in.

MYNHARDT JOUBERT (ONTHOUKOK)

Huidige beroep: Ekwerk vir myself.

Geboortedatum: 13 Januarie 1976

Is jy getroud: Ongetroud

Waar woon jy: Swartland

Waar het jy leer kook: Ek het myself leer kook

Wat is jou gunsteling-geur in die kombuis: Ribbetjies in die oond

Wat is jou gunsteling dis om voor te berei: Afval

Het jy ‘n spesiale wenk in die kombuis: Vat jou tyd

Mynhardt, is ‘n gewese ballet-danser wat op ‘n plaas net buite Malmesbury woon. Vir hom is kook ‘n kreatiewe proses en as hy nie agter die kospotte is nie, verf, lees en restoureer hy oudhede. Een van sy grootste prestasies is die Bar Bar Black Sheep restaurant in Riebeeck Kasteel wat hy vir 5 jaar besit het. Sy hoenders wat aanteel asof hulle betaal word, verskaf vir hom groot plesier. Hy is op sy gelukkigste in sy kombuis en tuin, ‘n liefde wat hy van sy ouers geërf het. Hy sien uit om tydens Kokkedoor tyd te spandeer met mense wat sy passie vir onthoukos deel.