Hier is die eerste van die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

MATHILDA VENTER (KINKELKOK)

Huidige beroep: Ek werk vir myself.

Geboortedatum: 6 Augustus 1992.

Is jy getroud: Ongetroud.

Waar woon jy: Somerset-Wes, Wes-Kaap.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Hou dit eenvoudig.

Ek kan nie kook sonder . . . my glas wyn nie.

’n Gesonde leefwyse is vir Mathilda baie belangrik en sy glo ’n mens kan gesonde onthoukos maak, sonder dat jy enige van die oorspronklike geur inboet. Haar inspirasie kom van ouma Mathilda en sy kook gereeld met die vars produkte uit haar eie tuin. Sy is nie bang om met nuwe geure te eksperimenteer nie en hoop om eendag baie te kan reis en haar kennis van ander kulture op te skerp.