EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

MARINDA ENGELBRECHT (ONTHOUKOK)

Huidige beroep: Regisseur.

Geboortedatum: 5 September 1958.

Is jy getroud: Getroud.

Waar woon jy: Hopefield, Wes-Kaap.

Waar het jy leer kook: By my ma.

Wat is jou gunsteling-geur in die kombuis: Ster-anys.

Watter gereg maak jy die graagste: Perlemoen.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Kook ruim vir die man wat oor die bult kom . . .

Ek kan nie kook sonder . . . liefde nie.

Marinda Engelbrecht is by baie kinders en ouers bekend as die “tannie wat Vlooi op die verhoog gesit het”. Vlooi is die kinderteaterproduksie wat al meer as ’n dekade kinders (van jonk tot oud) groot vermaak verskaf. Maar dié kleurryke vrou is ook ’n voorslag in die kombuis en hou nie van vaal kos nie. Selfs afval moet ’n bietjie kleurryk voorgesit word. Sy het groot geword op ’n plaas en kon botter karring nog lank voor sy kon lees. Nou woon sy op Hopefield tussen die Weskus en Swartland saam met haar man en skryf en vervaardig werk vir die teater. Sy glo kos moet warm en smeulend wees en ’n ete is ’n sensoriese ervaring wat al die sintuie prikkel. Haar dogter vra gereeld kookraad, want sy weet dat die pad na ’n man se hart deur Marinda se resepte loop.