EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

MAGDA JOHNSTONE (ONTHOUKOK)

Huidige beroep: BTW-ouditklerk.

Geboortedatum: 11 November 1958.

Is jy getroud: Ongetroud.

Waar woon jy: Bloemfontein, Vrystaat.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Gebruik al jou sintuie.

Ek kan nie kook sonder . . . worcestersous nie.

Magda se lus vir die lewe is aansteeklik en wanneer sy lag (wat gereeld gebeur), lag almal saam. Sy kom oorspronklik van Verkeerdevlei in die Vrystaat en het ’n skatkis familieresepte wat sy met trots aan haar dogters oorgedra het. Haar kreatiwiteit hou nie op by die kombuis nie; Magda skilder ook in haar vrye tyd. Sy is impulsief, maar glo ’n mens moet lewe in die oomblik en niks tot môre uitstel nie.