EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

JOHANN BREEDT (KINKELKOK)

Huidige beroep: Sjef.

Geboortedatum: 20 Januarie 1979.

Is jy getroud: Ongetroud.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Doen dit met liefde, reg uit die hart.

Ek kan nie kook sonder . . . passie, tamatie en brandrissie nie.

Johann Breedt het ’n diploma in voedselbereiding en kulinêre kuns, maar het sy vaardighede geslyp by die Twelve Apostels-hotel in Kampsbaai, die befaamde Ritz-hotel in Londen en toe die Lanzerac-wynlandgoed op Stellenbosch. Hy werk tans by die deftige restaurant van die Westin Grand in Kaapstad. Hy hou niks van die kitskos-kultuur wat sy kop in ons samelewing uitsteek nie en glo ’n reeks soos Kokkedoor sal weer help om ’n gesonde koskultuur te vestig.