EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

ALIDA KLOPPERS (IDA) (KINKELKOK)

Huidige beroep: Sjef.

Geboortedatum: 18 Oktober 1978.

Is jy getroud: Ongetroud.

Waar woon jy: Bloemfontein, Vrystaat.

Waar het jy leer kook: The International Hotel School of Sandton.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Wees geduldig.

Ek kan nie kook sonder . . . inspirasie nie.

Ida kom oorspronklik van Bothaville en het al kleintyd geweet sy wil ’n sjef wees. Vandag nog wil sy niks anders doen nie. Alles gaan vir haar oor kos: sekere mense onthou gebeurtenisse deur die mense en datums, maar Ida onthou gebeurtenisse deur die kos wat daar was. Sy reis graag oorsee en al die reise het altyd iets met kos te doen – en sy gaan graag terug om weer daardie spesiale happie te gaan proe! Vandag werk Ida as ’n sjef by ’n klein boetiekhotel in Bloemfontein en leef haarself hieruit. Haar groot droom is om eendag haar eie resepteboek te publiseer en Kokkedoor mag dit dalk net vir haar ’n werklikheid laat word.