EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

HENDRY OLIVIER (ONTHOUKOK)

Huidige beroep: Werk by Olive Branch-restaurant op Prins Albert

Geboortedatum: 2 April 1982.

Is jy getroud: Ongetroud.

Waar woon jy: Prins Albert, Wes-Kaap.

Waar het jy leer kook: By my werksplek, die Olive Branch-restaurant.

Ek kan nie kook sonder . . . die regte bestanddele nie.

Alles het met broodbak begin toe ouma Sophie hom geleer het. As ’n klein seuntjie het hy haar ure dopgehou terwyl sy vars deeg knie. Later het Hendry by die Olive Branch as ’n skottelgoedwasser begin werk, maar die eienaar het sy aanvoeling vir kook vinnig raakgesien. Vandag is hy onmisbaar in die Olive Branch se kombuis en veral bekend om sy broodpoeding brioche. Hy beskryf hom as ’n perfeksionis en hoop hy kan ’n verskil in sy gemeenskap maak deur die jeug te wys dat harde werk en toewyding tot sukses kan lei. Hendry se grootste ondersteuner is sy vierjarige seuntjie Matthew, ook sy grootste dryfveer om so ver moontlik te kom in die lewe en sodoende vir Matthew ’n goeie lewe te verseker.