EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

PETRUS JOHANNES RUSSOUW (HANNES) (ONTHOUKOK)

Huidige beroep: Sjef.

Geboortedatum: 13 Augustus 1989.

Waar woon jy: Outeniqua Strand, Wes-Kaap.

Waar het jy leer kook: CAIA (Culinary Art Institute of Africa) en natuurlik by Peter Veldsman en Johan Odendaal.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Kook met liefde en gee liefde met kos.

Ek kan nie kook sonder . . . Inspirasie nie. My inspirasie kom van vir wie ook al ek kook.

As daar een ding is wat Hannes Russouw nie kan verdra nie, is dit ’n vuil kombuis. Dié sjef van Groot-Brakrivier het al op vier geweet hy wil eendag agter die kospotte staan. Hy het sy opleiding onder leiding van Peter Veldsman en Johan Odendaal voltooi, waar sy liefde vir onthoukos gekweek is. Sy benadering tot kook is dikwels nostalgies en hy put inspirasie uit die kombuis, waar hy graag vir sy verloofde kook.