EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

CASPER ZÜLCH (KINKELKOK)

Huidige beroep: Werkloos.

Geboortedatum: 21 September 1992.

Is jy getroud: Ongetroud.

Waar woon jy: Rawsonville, Wes-Kaap.

Waar het jy leer kook: Op ’n stoof.

Het jy ’n spesiale wenk in die kombuis: Dis die beste om die plaat aan te skakel wanneer jy wil kook . . . niks kan gebeur op ’n koue plaat nie.

Ek kan nie kook sonder . . . kos nie.

Jy sal altyd ’n goeie bottel wyn in Casper se kar kry, want, soos hy sê, mens weet nooit wanneer daag jy iewers op en daar is nie drank nie. Volgens hom moet ’n mens altyd voorbereid wees, en wat kook betref, is hy nie net voorbereid nie, maar ook sommer baie gewaagd. Casper glo ’n resep is net ’n riglyn is waarmee ’n mens moet eksperimenteer. Hy het op laerskool al sy eerste resepteboek saamgestel en beskou sy ouma se resepteboeke wat hy geërf het, as van sy kosbaarste besittings. Hierdie ekstrovert het verlede jaar sy diploma in gasvryheid en spyseniering ontvang en kan nie wag om sy sjefmes in ’n professionele kombuis te swaai nie.