EN HIER is hulle, die 20 finaliste in kykNET se splinternuwe kookreeks, Kokkedoor, wat op 11 April om 20:00 op die betaalkanaal begin. Die hoopvolles is in twee kategorieë verdeel: Onthoukokke en Kinkelkokke.

ONTHOUKOKKE:

Dis mense wat van nature hul storie in ’n kombuis ken. Hulle kook uit die hart en met ’n passie wat spruit uit jare lange ervaring. Hulle het geen formele opleiding gehad nie, maar kom gewapen met hul ouma, ma en familie se resepte wat vir niks skrik nie.

KINKELKOKKE:

Dis mense wat sjef-opleiding of beroepservaring in ’n kombuis het. Hulle is innoverend en het ’n slag met nuwe resepte, metodes en bestanddele. Hulle kan onthoukos ’n splinternuwe kinkel gee, ’n nuwe baadjie aantrek en sommer ook nuwe vlerke die toekoms in.

ALETTA COETZEE (ONTHOUKOK)

Huidige beroep: Boekhouer.

Geboortedatum: 4 Maart 1983.

Is jy getroud: Getroud.

Waar het jy leer kook: Op die plaas naby Prieska, Noord-Kaap.

Watter gereg maak jy die graagste: Skaapboud en hoenderpastei.

Het jy ‘n spesiale wenk in die kombuis: Proe! Proe! Proe!

Ek kan nie kook sonder . . . musiek en wyn nie.

Dié boekhouer van Worcester vind inspirasie agter die kospotte. Sy het by haar ma op hul familieplaas in die distrik Prieska leer kook. Haar vernuftige kookkuns is geslyp op haar pa wat al verskeie eksperimentele geregte moes proe. Aletta droom daarvan om haar eie resepteboek te publiseer wat sal wentel om familie en tradisionele boerekos. Aletta en haar man het al groot hartseer beleef toe hul een dag oue babadogtertjie oorlede is. Aletta wil graag eendag ’n ondersteuningsplatform begin vir ouers wat soortgelyke trauma ervaar. Sy ken ook haar storie op die jagveld en is ’n merkwaardige skut.