Noem jy die woorde “Kokkedoor” en “rooi lippe” in dieselfde sin, weet almal van wie jy praat: die “bloedjong 55-jarige van Hopefield”, Marinda, natuurlik.

Vandat die eerste seisoen geëindig het, was sy omtrent al in elke provinsie vir ’n kosdemonstrasie of vroueoggend. En dan wag daar ook ’n opwindende nuwe teaterprojek . . .

“My lewe het drasties verander,” sê sy, “en nou kom my liefde vir teater en kook vir die eerste keer bymekaar.

“Ek en Herman Lensing, Sarie se kosredakteur, is by die Woordfees op Stellenbosch en by die KKNK saam in die produksie Voorskoot en Lipstiek te sien.” Sy vertel dis ’n volwaardige toneelstuk; daarin berei sy en Herman ’n driegangmaal op die verhoog. “Dis baanbrekerswerk!” glo sy.

Al sien sy uit na die tweede seisoen, erken sy dit voel of sy ’n “ligte aanval kry” wanneer sy daaraan dink; sy is verlig sy neem nie weer deel nie.

“Maar grappies op ’n stokkie: Kokkedoor was een van die heel beste ondervindings van my lewe.”

Hoe sal sy voel as een van die deelnemers in dié seisoen in haar voetspore volg en ook aandring op rooi lippe voor sy kook?

“Dit sal vir my ’n moewiese kompliment wees,” sê sy en lag lekker. “Jy mag nie vaal lippe hê nie.”

Christiaan Boonzaier