_MG_6264 2
Hoekom het jy vir Koekedoor ingeskryf?

’n Vriend het die advertensie in Die Burger raakgesien wat gelui het: “Jou koek kan jou ster maak,” en dadelik vir my laat weet van die kompetisie deur ’n SMS na my te stuur wat gelees het: “Murray, jou koek kan jou ’n ster maak!” saam met ’n foto van die advertensie. Ek bak die allerheerlikste murgpampoentjiekoek waarop hy absoluut versot is. Hy het al ’n paar keer gesê dat dit die lekkerste koek is wat hy al geëet het en dat die koek my nog bekend gaan maak. Die res is geskiedenis.

Wat het jy geleer tydens jou deelname?

Waar begin mens . . . Ek het baie van myself geleer: in die verlede het ek baie getwyfel aan my bakvernuf aangesien ek nog nooit myself kon meet teen ander se gebak nie. Die kompetisie het dit opgeklaar en vir my bewys dat ek wel ’n besigheid as bakker/sjef kan begin. Verder het ek ook baie geleer oor wat dit verg om ’n wêreldgehalte-produksie soos Koekedoor van die grond af te kry. Ek haal my hoed af vir die hele span wat agter die kamera gewerk het om die program so ’n groot sukses te maak; daarom wil ek ook dankie sê aan Homebrew Films en kykNET wat my die geleentheid gegee het om deel van Koekedoor te wees.

Het Koekedoor jou lewe verander en wat hou die toekoms vir jou in?

My deelname aan die program het beslis my lewe ’n sekere mate verander. Ek beoog om in die komende maande op Plettenbergbaai die eerste van ’n reeks restaurante oop te maak met die naam The Meatball Factory. Hierdie nuwe restaurantkonsep fokus op die onmiddellike woonbuurt of gemeenskap waarin die restaurant oopmaak. The Meatball Factory strewe daarna om alle bestanddele en produkte wat nodig is om die restaurant te bedryf, te verkry deur die gemeenskap in staat te stel om hierdie bestanddele en produkte vir ons te verbou en te vervaardig. Ons wil graag die impak vier wat die werkersklas het op die samelewing soos wat ons dit vandag ken, aangesien ons glo dat die werkersklas die bewaarder van morele, sosiale en etiese waardes is en die oordrag daarvan na ons volgende geslagte verseker.

Hoe voel jy oor gisteraand se episode waar jy uitgestem is? Wat het skeefgeloop?

Alhoewel ek uitgestem is, het ek selfs hierdie die episode van voor tot agter geniet. Ek sou egter baie graag nog langer deel van die kompetisie wou wees, aangesien ek dink dat ek baie goed sou vaar in van die uitdagings wat nog op die Koekedore wag en ek so graag nog baie wou leer. Koekversiering is nie my sterk punt nie en ek het gehoop dat die uitdaging eers heelwat later in die kompetisie sou wees. Ek het van die begin af geweet dat ek ’n probleem sou hê as daar gedurende ’n uitdaging van ons verwag word om met fondant te werk, aangesien ek nog nooit koeke hiermee versier het nie. Ek dink ook ek het gedurende die uitdaging al begin dink dat dit my ondergang sou beteken.

Wie dink jy is die deelnemers om mee rekening te hou?

Daar is ’n rede hoekom Mareli, Martjie, Gerda, Valerie en Gerrit gekies is as die laaste vyf Koekedore en dit is omdat hulle elkeen ’n formidabele bakker is. Enigeen van hulle kan die kompetisie wen, maar my geld is op Mareli!

Watter kospersoonlikhede inspireer jou?

  • Die Koekedoor-beoordelaars – Elizabeth Cloete, Mari-Louis Guy en Tiaan Langenegger. Hulle kennis oor gebak is ’n inspirasie vir almal wat aan die program deelgeneem het.
  • Reuben Riffel – Bekroonde Suid-Afrikaanse sjef.
  • Paul Hollywood –Engelse bakker en glanskok, beter bekend as een van die beoordelaars op die BBC program The Great British Bake Off.
  • James Morton – Britse broodbakker van formaat en naaswenner van die derde reeks van The Great British Bake Off.

Gunstelingkoek of -tert en hoekom?

Alhoewel ek meer daarvan hou om koek te bak, is ek meer ’n terterige mens. Ek dink tert is vir my op ’n ander vlak omdat ek ’n baie beter koekbakker as tertbakker is, en die misterie van tert bak my nog baie fassineer.

Wat verkies jy, soet- of soutgebak?

Ek is ’n broodbakker deur en deur; daarom moet ek sê sout. Ek is absoluut versot daarop as my sintuie oorlaai word met die uiteenlopende teksture, geure en kleure van deeg en vulsels van verskillende soorte brood. Die uiteenlopende chemiese en biologies reaksies wat plaasvind, fassineer my weer op ’n heeltemal ander vlak.

Waar kan mense jou kontak? (Facebook, Twitter, webtuiste?)

Ek kan gekontak word vir besprekings by info@murraypienaar.com.

’n Weeklikse opsomming van my Koekedoor reis is beskikbaar op my Facebook bladsy Murray Pienaar – Koekedoor asook op Twitter by @doornspruit. Gaan loer ook gerus na al die projekte waaraan ek op die oomblik werk op my webtuiste www.murraypienaar.com.