Waar woon jy?

Durbanville.

Som jouself in drie woorde op.

Hardwerkend, pligsgetrou, kunssinnig.

Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?

Ek was so 12 jaar oud. Ek en my ma het kleinkoekies met daai outydse meultjie gebak. Dit was tydens ons jaarlikse vakansie in Hartenbos; dit was die goeie tye.

Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?

Hou dit eenvoudig en smaaklik, en “eet met die oë”.

Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?

’n Salm-en-baba-aartappel-frittata met dun skywe tamaties en tuisgemaakte basiliepesto. Vir poeding sal ek pangebraaide nektariens met vanieljeroom en neute voorsit.

Watter van die eerste reeks se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?

Mynhardt. Hy was deurgaans net homself; ’n mens kon dit sien. En hy was altyd kalm.

Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?

Oprah Winfrey, want ek dink sy sal tradisionele Suid-Afrikaanse kos baie geniet.

Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?

Hoenderpastei; dis een van die groot gunsteling – en almal sweer altyd hul ouma s’n is die beste.