Waar woon jy?

Kaapstad.

Som jouself in drie woorde op.

Kreatief, anders, geesdriftig.

Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?

Die eerste dis waaraan ek my hand geslaan het, was ’n pot groentesop toe ek net vier was; dit was nog in my speelkombuis in my ouers se agterplaas. Dit was weliswaar nou nie lensiesop nie en niemand het hul eersgebore reg daarvoor opgeoffer nie, maar ek het so hartstogtelik gekook dat my ma my daardie middag hospitaal toe mos haas om steke te kry.

Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?

Suid-Afrikaners is konserwatiewe eters, maar dit beteken nie jy moet noodwendig na hul (oudmodiese) pype dans nie. Al wat jy moet doen, is om te kook in die styl waaroor jy passievol is, dan sal jou liefde vir kos maak duidelik in jou dis wees. Berei waarvan jy hou en moenie bang wees om iets nuuts te probeer nie.

Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?

My driedubbele-kaas-en-artisjok-gratin met ’n lekker bros Franse brood. Die die toppunt van eenvoudige dekadensie, en ek het nog nie een persoon ontmoet wat nie agterna hul bord uitlek nie.

Watter van die eerste seisoen se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?

Ek moet erken dat ek weens ’n veeleisende werkskedule nie regtig die eerste seisoen noukeurig gevolg het nie. Die paar keer dat ek wel gekyk het, het ek Tiaan se werkwyse beny. Hy was berekend en komkommerkoel, maar het tog elke keer ’n interessante haas uit sy hoed geruk. Stille waters, diepe grond – ek hou daarvan!

Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?

Tori Amos! Ek dink haar kop werk net soos myne. Ek is mal oor die vrou en dink dit moet ongelooflik wees om saam met haar aan ’n etenstafel te sit, haar sintuie te prikkel en haar reaksie waar te neem.

Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?

Beslis die oënskynlik nederige vetkoek. Wys my ’n mens wat nie hou van ’n vars vetkoek met konfyt en kaas of lekker maalvleis nie, en ek wys jou iemand met ’n fout in hul mondering. Ek hou ook daarvan dat al die verskillende kulture in ons land hul eie weergawe van die vetkoek het.