Waar woon jy?

Ek het op Ficksburg gewoon, maar is nou in Wellington, waar ek ’n nuwe pos aanvaar het en ek en my verloofde ons lewe saam gaan begin.

Som jouself in drie woorde op.

Geduldig, passievol, hardwerkend.

Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?

Ek kan nie presies onthou hoe oud nie, maar ek was nog nie op skool nie. Ek en my ma het gevulde eiers gemaak.

Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?

Dink wat jy doen!

Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?

As ek by die huis is, sal ek vir hulle gourmet-broodjies maak met wat ook al in my yskas is. As ek by die werk is, kan hulle maar enigiets van die spyskaart af bestel.

Watter van die eerste reeks se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?

Marinda. Noudat ek self weet hoe dit in die Kokkedoor-kombuis gaan, besef ek sy was altyd positief. Die rooi lipstiffie waarvoor sy altyd tyd gemaak het, was uniek, en ek hou daarvan.

Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?

Ek sal graag boerekos vir Gordon Ramsay wil voorsit. Ek dink dit moet ongelooflik interessant wees om uit te vind wat hy van pampoenkoekies en skaapboud dink.

Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?

’n Sondagmaal. Enigiets van skaapboud met rys en groente tot koekstruif vir poeding.