Waar woon jy?

Ek woon nou op Malmesbury, maar is oorspronklik van Prins Albert.

Som jouself in drie woorde op.

Passievol, ’n doener, klein hartjie.

Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?

My eerste ervaring was op 5 toe ek pienk skuimpies uit ’n biblioteek aanpak. Die eerste poging was ’n gemors, maar dit het my aangespoor om aan te hou tot dit perfek is.

Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?

Proe altyd aan al jou kos, en moenie iets voorsit wat jy nie self sal eet nie.

Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?

Ek hoop nie hulle dink dit gaan ’n kort kuiertjie wees nie. Ons gaan eers ’n goeie Bolandse rooiwyn oopmaak en dan die vuur aansteek, want dit is hoe plattelanders kuier! Ons sal wegval met platbrode en soet oondgeroosterde tamaties, olywe, pesto, bokmelkkaas en vars roket. Tussen die gekuier deur begin braai ons ontbeende Karoolamsboud en eet dit saam met knoffel-en-roosmaryn-aartappels en ’n perske-en-bloukaasslaai. Net voor hulle moeg raak vir my geselskap, ruk ek die vinnige maar heerlike nagereg uit: bloeienede-hart-sjokolade met my tuisgemaakte piesang-en-karamel-roomys.

Watter van die eerste seisoen se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?

Mynhardt. Hy is rustig en gemaklik. Hy maak nie dinge te ingewikkeld nie, en hoe hy die dis mooi maak, is vir ons albei ewe belangrik.

Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?

Sjoe, hoe kies ’n mens? Ek sou baie graag vir Nataniël na ’n teepartytjie nooi met alles wat soet en romerig is; dit kan net pret wees, want ek is mal oor hom. Internasionaal sal ek graag vir die Britse sjef Heston Blumenthal wou kook. Hy is ’n molekulêre-gastronomie-koning, maar ek sal graag sy mening oor egte boerekos wou hoor.

Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?

Braaivleis met tamatie-en-kaas-braaibroodjies. Almal kan ’n herinnering knoop aan die heerlike reuk van vleis op die vuur, van vakansieliefde by die see, tot jou eerste wettige biertjie saam met pelle om die vuur. En moet natuurlik nie van rugby vergeet nie. Daar is ook niks beter as ’n koue tjoppie en braaibroodjie vir ontbyt voor jy Sondag kerk toe gaan nie.