Waar woon jy?

Bloemfontein.

Som jouself in drie woorde op.

Passievol, liefdevol en gemotiveer.

Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?

Ek was vyf. Ek het ’n sjokoladekoek gebak wat ek vandag nog maak, want die resep is foutloos en is ’n groot treffer by die huis.

Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?

As jy met passie en liefde in jou hart kook of bak, word dit uitgestraal en geproe in wat jy ook al berei.

Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?

Sjoe, dit sal nou vir jou ’n ding wees, maar die beoordelaars hoef nie bekommerd te wees dat hulle honger sal vertrek nie. Daar is altyd vars groente en bakbestanddele in my huis, so ek sal vir hulle ’n ligte al fresco-ete berei. Ek sal ’n lekker vars broodjie bak en dit bedien met ’n Mediterreense terrien (bestaande uit verskillende geroosterde groente, roomkaas en bokmelkkaas), ’n botterskorsieslaai met roketblare, dennepitte en fetakaas, en ’n lekker geurige, koue tamatiesop.

Watter van die eerste seisoen se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?

Ek het baie van Tiaan gehou. Hy het baie innoverende idees gehad en oulike maniere uitgedink om onthoukos met kinkels te berei. Terwyl hy kos gemaak het, kon jy sy daarvoor passie sien. Ek het ook so ’n paar goedjies by hom geleer wat ek definitief in die kombuis sal toepas.

Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?

Ek sal graag vir Jamie Oliver wil kook, want vandat ek kan onthou, is hy my kos-ikoon. Hy is die tipe persoon vir wie jy klomp verskillende disse kan voorsit en hy sal doodgelukkig daarmee wees; hy sal nie ’n tiengang Franse ete verwag nie. Hy het so ’n passie en liefde vir kook. Ek is seker as ’n mens eers saam met hom oor kos begin praat, sal jy so baie by hom kan leer en van voor af inspirasie put en verlief sal raak op kos.

Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?

Verseker ’n soetdingetjie. In die oudae is daar altyd ná ete nagereg bedien, veral ná ’n Sondagmiddagmaal. Kyk, ek dink nie jy kan verkeerd gaan met ’n behoorlike, outydse melktert nie. Ons het al gehoor van ons oumagrootjies wat al die stappe bemeester het om die perfekte melktert te bak. En stry nou, wie sal nee sê vir ’n stukkie?