Waar woon jy?

Kaapstad.

Som jouself in drie woorde op.

Passievol, kreatief, liefdevol.

Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?

Ek onthou ek was so drie of vier toe ek saam met my ouma reënboogbroodjies gemaak het.

Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?

Onthou om altyd goed te beplan en om uit jou hart te kook en bak.

Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?

Ek sal my twee gunsteling-dertigminuuttreffers voorsit: Salm-en-kappertjieslaai met suurlemoen-crème fraîche en avokado, en ’n heerlike kaasbord met groenvye, uiemarmelade, geroosterde tamaties en natuurlik ’n lekker bottel yskoue wyn.

Watter van die eerste seisoen se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?

Ek was ontsettend mal oor Tiaan. Hy het kreatief en uit die boks gedink en het vir my gelyk na iemand met wie ek kan kook, gesels en lag.

Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?

Eerstens Nataniël: Ek het soveel respek vir hom as kreatiewe mens en individu; ek sal graag met hom wil kook. Tweedens Justin Bonello: Sy kookstyl geval my en ek sal graag vir hom wil kook. Derdens Candice Swanepoel: Ek wil graag vir haar en haar modelvriendinne iets wonderliks kook. Vierdens Ellen DeGeneres: Sy is my held en sy is ’n veganis; dit behoort interessant te wees. Ander bekende sjefs soos Nigella Lawson, Marco Pierre White, Bill Granger en Daniel Boulud.

Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?

Enigiets wat jy assosieer met goeie herinneringe. Dit kan enigiets van ’n dis tot ’n oomblik of ’n reuk wees. Ek dink tog die meeste van ons hou van iets nostalgies of wat ons terugneem na ’n warm gevoel, soos malvapoeding, vetkoek met lamskerrie of (my gunsteling!) die braaibroodjie.