[post-slider] Dit deel ontwerp-elemente met die vorige model, maar die nuweling is heeltemal herontwerp en die voorkoms lyk oor die algemeen meer vaartbelyn. Die nuwe Soul is effe groter as sy voorganger – dit is 20 mm langer en 15 mm breër. Natuurlik beteken dit daar is meer beenruimte agter, terwyl die kattebak 354 L kan hanteer; dié ruimte vermeerder wanneer die agtersitplekke platgeslaan word.

'Kia het die algehele voorkoms en afwerking verander met sagte plastiek.'

Maar binnelangs is daar die meeste veranderinge aangebring; Kia het die algehele voorkoms en afwerking verander met sagte plastiek, stikwerk in ’n teenstellende kleur en swart kleuraksente. Die reeks bestaan uit drie enjinkeuses en afwerkingsvlakke.

Die intreevlak-Soul, die Start, het ’n indrukwekkende reeks standaardkenmerke, insluitend Bluetooth, ses luidsprekers, ’n klankstelsel met ’n raakskerm, ’n kamera agter, elektries verhitte kantspieëls wat kan invou, lugversorging, ses lugsakke en 17-duim-allooiwiele.

Die Street-model het 18-duim-allooiwiele, leersitplekke, sleutellose toegang en aanskakel, ritbeheer, klimaatbeheer, parkeersensors agter en stabiliteitsbeheer.

Die Smart, die topmodel in die reeks, is net beskikbaar met ’n outomatiese ratkas, maar het ook ritbeheer, ’n elektriese bestuurdersitplek en beligting binne. Buitelangs onderskei hoë-intensiteitshoofligte, dagryligte en agterligte hom van die Start en die Street.

Boonop is daar verskeie kleure beskikbaar en met sekere kleurkeuses kan jy die dak in ’n teenstellende kleur kry.

Die intreevlakmodel het ’n 1,6 L-petrolenjin, wat 91 kW en 152 Nm. lewer. Volgende is ’n 2 L-petrolenjin, wat 113 kW en 191 Nm. lewer. ’n 1,6 L-turbodieselenjin met 94 kW en 260 Nm. voltooi die reeks. Al drie enjins is ook met ’n outomatiese ratkas beskikbaar.

PRYSE

1,6 Start – R239 995

1,6 Start AT – R251 995

2,0 Street – R274 995

2,0 Smart AT – R315 995

1,6D Street – R299 995

1,6D Smart AT – R340 995